Corrie van Zyl is hier om te bly
2010-01-31 00:39
Johann de Jager
Bloemfontein - Corrie van Zyl, die Proteas se tussentydse krieketafrigter vir die toer na Indië, sê hy is in sy nuwe pos om daar te bly.
“ ’n Afrigter streef tog na só iets. Ek voel ek is nou op die regte plek. Waar ek in die verlede om verskeie redes nie aansoek wou doen nie, voel ek dat ek nou daarvoor gereed is,” sê hy.
Van Zyl voel trouens dat sy tussentydse pos eintlik heeltyds is. “Dis soos ek voel. Ek voel ek is daar om te bly. Ek gaan die span benader asof ek gaan aanbly. Ek dink nie daar is ’n ander manier hoe jy dit kan doen nie, anders is dit ’n resep vir ’n ramp.”
Hy sê Krieket Suid-Afrika (KSA) moet besluit of hy moet aanbly. “Ek sal my beste gee. As ek ’n impak lewer en KSA voel dat ek kan aangaan, sal dit wonderlik wees. As hulle op iemand anders besluit, sal ek nie kwaad daaroor wees nie.
Dat hy op kort kennisgewing die afrigterspos by Mickey Arthur oorneem en in ’n toetsreeks teen die wêreld se beste toetsland gewikkel sal wees, is vir Van Zyl eerder ’n uitdaging as wat dit hom ontsenu.
Van Zyl was Donderdag in Kaapstad waar hy samesprekings met die Proteas se kaptein, Graeme Smith, en boulafrigter, Vince Barnes, gevoer het.
Arhur het Van Zyl gister gebel en hulle sou later oor sekere aspekte van die span gesels het.
Van Zyl se enigste besoek aan Indië was in 2000 toe hy die hulpafrigter van die Proteas was. Hansie Cronjé was toe die kaptein. Dit was die eerste Suid-Afrikaanse span in 13 jaar wat Indië op sy eie bodem in ’n toetsreeks kon klop.
Hy weet dus nie hoe dit voel om daar te verloor nie en is ook nie van plan om nou uit te vind hoe dit voel nie, sê Van Zyl.
Intussen het Kepler Wessels, wat die span as keurder en kolfkonsultant vergesel, gister aan cricinfo gesê die Proteas se gedugte kolflys en Smith se sterk persoonlikheid sal die span bymekaar hou en die afrigtingskrisis op die agtergrond skuif.
Net vier punte skei dié twee spanne op die Internasionale Krieketraad se toetsranglys.
As die Proteas die reeks van twee toetse wen, sal hulle weer die eerste posisie by Indië oorneem.
“Graeme Smith het ’n sterk persoonlikheid en hy sal nie te veel probleme hê om oplossings te vind nie.
“Ek het voorheen al met sulke situasies te doen gekry. In Indië, waar krieket só belangrik is, moet elke speler hom net op die spel toespits,” sê Wessels.
Die Proteas vertrek vanoggend na Indië vir twee toetse en drie eendagwedstryde.
Die toerspan speel van Dinsdag af ’n oefenwedstryd oor twee dae teen ’n Indiese Raadselftal, wat deur die Indiese eendagkolwer Rohit Sharma aangevoer word.
- Beeld