Corrie, kaptein voer iets in mou
2010-04-26 10:46
Christo Buchner
Johannesburg - Sy eerste taak in die Karibiese Eilande gaan wees om al sy spelers weer op dieselfde golflengte ingestel te kry, sê Corrie van Zyl, die afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan.
Die SA span het Saterdagaand oor Londen na Barbados vertrek waar hy vandeesweek opwarmwedstryde teen Sri Lanka en Engeland speel voordat die Twintig20-Wêreldtoernooi Sondag vir hom afskop – teen Indië in St. Lucia.
Die ander span in Groep C is Afganistan, teen wie Suid-Afrika aanstaande Woensdag te staan kom.
Van Zyl sê sy belangrikste taak tydens hierdie week se voorbereiding is om die Indiese Premierliga (IPL) uit die spelers se koppe te kry.
“Daar het hulle by verskillende franchises gespeel wat elkeen sy eie benadering gehad het. Ons het nie veel tyd om hulle weer ingestel te kry op die manier hoe ons wil hê hulle moet speel nie,” het hy voor die span se vertrek gesê.
Die SA kaptein, Graeme Smith, sê hy en Van Zyl het die laaste paar weke, terwyl hy herstel het van ’n gebreekte vinger wat hy vroeg in die IPL-reeks opgedoen het en waarna hy moes terugkeer huis toe, baie beplanning gedoen oor hoe hulle te werk wil gaan om die trofee te verower.
Van Zyl sê: “Al is dit ’n kort en baie intense toernooi, beteken dit nie daar gaan minder voorbereiding wees as vir ander reekse en toernooie nie.
“Boulwerk teen die einde van die beurt is van die grootste belang. Daarom het ek en Graeme baie tyd daaraan bestee om die regte kombinasie te probeer vind.”
- Sport24