Cook lei SA-uitnodigingspan
2013-02-27 18:00
Johannesburg – Stephen Cook sal 'n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan in 'n eendagwedstryd op 6 Maart teen Pakistan in Kimberley lei, het Krieket Suid-Afrika (KSA) Woensdag aangekondig.
"Ons is grootliks beperk tot spelers van die Highveld Lions en die Dolphins vir dié kragmeting omdat die ander vier franchises daardie naweek in die t20-toernooi speel," het die afrigter, Vincent Barnes, gesê.
"Dié wedstryd sal weereens 'n geleentheid vir spelers wees om te wys wat hulle op 'n hoër vlak kan doen en ook om die ervaring te geniet om teen 'n internasionale span te speel."
Barnes het gesê 'n hele aantal spelers het reeds voordeel getrek uit wedstryde vir Suid-Afrika 'A' sowel as die uitnodigingspanne, om 'n plek in die Protea-span te kry.
"Jy hoef nie verder te kyk as Kyle Abbott vir 'n voorbeeld hiervan nie," het Barnes bygevoeg.
SA-uitnodigingspan:
Stephen Cook (Highveld Lions, kaptein), Craig Alexander (Dolphins), Temba Bavuma (Highveld Lions), Cody Chetty (Dolphins), Quinton de Kock (Highveld Lions), Imran Tahir (Highveld Lions), Chris Morris (Highveld Lions), Jean Symes (Highveld Lions), Jonathan Vandiar (Dolphins), Vaughn van Jaarsveld (Dolphins), Hardus Viljoen (Highveld Lions), Lizaad Williams (Cape Cobras).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.