Cobras laat rekords spat
2011-11-06 19:00
Johannesburg – Richard Levi het die vinnigste honderdtal in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse beperkte boulbeurte-krieket aangeteken om die Cobras tot ‘n oorwinning van 72 lopies te lei in hul 1 Day Cup-wedstryd teen die Highveld Lions.
Die span van die Kaap het ‘n enorme 379/7 in hul 50 boulbeurte opgestapel, terwyl die Leeus slegs 307 almal uit in 48.5 boulbeurte kon behaal.
Levi was in die T20-groep wat teen Australië gespeel het, maar het nie speelkans gekry nie. Hy het egter bewys dat sy kragtige kolfwerk net so effektief in die 50 boulbeurte-formaat kan wees.
Hy het sy honderdtal van slegs 53 balle aangeteken en só Vaughn van Jaarsveld se rekord van 53 lopies gebreek. Hy het ‘n vennootskap van 176 om die eerste paaltjie met Andrew Puttick gedeel en het uiteindelik sy paaltjie op 110 (57 balle, 8 viere, 10 sesse) verloor.
Puttick het ook ‘n honderdtal aangeteken, asook Neil McKenzie vir die Lions, maar Levi se beurt was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.
Vir die Lions het Cliffe Deacon (55, 25 balle) die bal ook hard geslaan en onder meer drie sesse in ‘n ry van die boulwerk van Robin Peterson gemoker.
Die Cobras se totaal het ook die vorige rekord van 378/5 – deur Transvaal teen Griekwas in 1994/95 – oortref.
- Volg Nuus24Sport op Twitter