Cobras klop Warriors
2012-02-15 22:55
Port Elizabeth – Stiaan van Zyl en Andrew Puttick het albei vyftigtalle aangeteken voordat die Cape Cobras se draaiboulers die Warriors ingeperk het om aan die Cobras ‘n oorwinning met 10 lopies te besorg in hul T20-wedstryd Woensdag.
Van Zyl het 58 lopies aangeteken, terwyl Puttick 55 bygedra het om die verdedigende kampioene 155/5 te laat behaal.
Die Warriors kon op hul beurt slegs 145/7 behaal. Die Cobras se draaiboulers het saam vyf paaltjies vir 68 lopies laat kantel binne nege boulbeurte. Yaseen Vallie, Dane Piedt en Alistair Gray het onderskeidelik 2/28, 1/15 en 2/25 geneem soos die Warriors gesukkel het op ‘n blad wat stadiger geword het met die verloop van die wedstryd.
Die Cobras-paaltjiewagter Mark Boucher het ook ‘n goeie aand beleef en drie stonkkanse benut.
Onder die Warriors-boulers het Makhaya Ntini (2/19) en Kelly smuts (2/19) goed gevaar.
Hul kolwers kon egter nie aan die gang kom nie. Jon-Jon Smuts (8), Ashwell Prince (23), Nicky Bojé (13) en Justin Kreusch (25) het op kritieke tye hul paaltjies verloor.
- Supersport
- Volg Nuus24Sport op Twitter