Clarke wil 'reëls verbreek' teen Indië
2012-01-12 13:45
Perth – Michael Clarke, kaptein van Australië, sê hy oorweeg dit om twee van sy eie goue reëls te verbreek vir sy span se derde toetswedstryd teen Indië in Perth, wat Vrydag begin.
Met 'n voorsprong van 2-0 in die reeks ná oortuigende oorwinnings in Melbourne en Sydney het Clarke gesê hy oorweeg dit om nie net vier naatboulers teen Indië te gebruik nie, maar om ook eerste te boul as hy die loot wen.
"Ek vind dit regtig moeilik om eerste te boul as ek die loot wen, ongeag die toestande," het hy gesê.
"En ek vind dit regtig moeilik om 'n draaibouler uit my span te laat, ongeag die toestande.
"Maar terwyl 'n mens dit sê moet jy ook doen wat die beste is om die wedstryd te wen. Die toestande sal heel duidelik snelboulers pas, veral op die eerste dag.
"Ek moet na die toestande kyk en 'n paar baie slim besluite maak."
Clarke het gesê die tuisspan se finale elftal sal nie gekies word tot hulle nie die oggend na die blad gekyk het nie.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP