Clarke reg vir derde toets teen Sri Lanka
2013-01-02 09:27
Sydney – Michael Clarke, die kaptein van die Australiese krieketspan, het homself fiks verklaar vir die derde toets teen Sri Lanka wat Donderdag in Sydney begin.
Clarke het gesukkel met ‘n dyspier-besering, maar het Woensdag deelgeneem aan die volle oefensessie by die Sydney Cricket Ground (SCG). Australië loop tans 2-0 voor in die reeks van drie toetse.
Hy het ook aangekondig dat die span vier snelboulers sal insluit in die elftal teen Sri Lanka.
Mitchell Johnson, Mitchell Starc, Peter Siddle en Jackson Bird is die boulers wat sal diens doen in Sydney.
“Om vir Mitchell Starc in te bring gaan vanselfsprekend ons aanval help, veral met die goeie spelpeil wat hy handhaaf, en Mitchell Johnson se kolfwerk is so goed soos ‘n veelsydige speler s’n,” het Clarke tydens ‘n mediakonferensie gesê.
Starc vervang die beseerde Shane Watson wat sukkel met ‘n kuitbesering.
Mike Hussey, wat in sy laaste toets sal speel, kolf op nommer vyf.
“Wanneer ouens aftree is dit altyd ekstra spesiaal om daardie wen in hul laaste wedstryd te kry en ek is seker dat hierdie keer nie anders gaan wees nie,” het Clarke gesê.
Australië se span lyk so:
Michael Clarke (kaptein), David Warner, Ed Cowan, Phil Hughes, Mike Hussey, Matthew Wade, Peter Siddle, Mitchell Johnson, Mitchell Starc, Jackson Bird, Nathan Lyon.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Reuters