Boucher onder valbyl
2011-11-23 07:01
Johannesburg – Mark Boucher besef maar al té goed dat hy sy sokkies sal moet optrek óf hom binnekort ook in die toetswildernis kan bevind.
Só het Gary Kirsten, die Protea-afrigter, gesê kort nadat sy span Dinsdag op die Wanderers vasgeval het in die tweede toets teen Australië – en sodoende ’n dramatiese reeks teen die besoekers met 1-1 gedeel het.
Die Suid-Afrikaners het die eerste kragmeting in Kaapstad met agt paaltjies gewen, maar kon eergister nie daarin slaag om die Aussies te weerhou van ’n rekord-wenteiken van 310 lopies in sy tweede beurt in die Bull-ring nie.
Die toerspan het dié telling bereik met net twee paaltjies staande, om toe te sien dat die Suid-Afrikaners steeds in 1970 laas ’n tuisreeks teen die manne van Doer Onder kon wen.
Dit was die vierde agtereenvolgende toetsreeks in sy agterplaas wat Graeme Smith se span nie kon wen nie, nadat hy in Desember 2008 die laaste keer op tuisbodem (teen Bangladesj) gewen het.
Hoewel Boucher teen Australië sy bestendige self was agter die paaltjies – en op Nuweland nóg ’n wêreldrekord laat tuimel het – het sy gesukkel van die afgelope jaar met die kolf voortgeduur.
In drie beurte kon dié 34-jarige Oos-Kapenaar tellings van net 4, 3 en 13 behaal, wat die Suid-Afrikaanse kolfstert onder geweldige druk geplaas het.
“Mark is ’n geharde internasionale speler en wat my betref het hy steeds nie sy gelyke agter die paaltjies nie. Dié deel van sy spel was voortreflik in die reeks,” het Kirsten gesê.
Boucher, naas Jacques Kallis die mees ervare toetsspeler in die land se geskiedenis, het die eerste paaltjiewagter tot nog toe geword om 500 vangkanse te benut. Hy het nou 526 slagoffers geëis in 141 toetse – 110 meer as sy naaste teenstander, die uitgetrede Aussie-handskoenman Adam Gilchrist.
Tog kon hy in vyf toetse die afgelope jaar net 92 lopies aanteken teen ’n kolfgemiddelde van 15.33 en het hy middel verlede jaar die trekpas gekry uit die nasionale eendag- en Twintig20-spanne.
“Om die herfstydperk van só ’n fantastiese loopbaan te betree, is dikwels ’n moeilike plek om te wees – en Mark besef dit. Dit gebeur met elke speler en ek het in my speeldae self ook daarmee gesukkel,” het Kirsten gesê.
“Ons almal sal graag wil sien dat hy weer op alle suiers vuur, want die nommer 7-plek in die kolflys is ’n baie belangrike een.
“Dis nie nodig vir my of enigiemand anders om vir hom te sê dat sy kolfwerk moet verbeter nie, want hy is bewus daarvan.”
- Hoewel AB de Villiers die afgelope anderhalfjaar reeds die blits- en kitshandskoene dra, is dit hoogs onwaarskynlik dat hy dit ook in die langste weergawe van die spel sal doen.
Daarom word die name van Davey Jacobs, Heino Kuhn, Daryn Smit, Dane Vilas en selfs die 18-jarige Quinton de Kock reeds genoem as moontlike opvolger vir Boucher.
Die Proteas is weer vanaf 15 Desember in ’n toetsreeks teen die besoekende Sri Lanka slaags.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg