Botha lê die langsteel in
2012-01-04 09:41
Brisbane – ’n Juweeltjie van ’n kolfbeurt deur die veelsydige Johan Botha het gister die Adelaide Strikers tot ’n oorwinning gehelp.
Brisbane Heat is met 31 lopies in hul Big Bash-krieketkragmeting geklop.
Die Suid-Afrikaner het hom in die 16de boulbeurt by Tom Cooper (43*, 27?b) aangesluit en 28 onoorwonne lopies van net 16 balle af gemoker om die besoekers se totaal op 166/4 te staan te bring.
Dié twee se vennootskap van 42 om die vierde paaltjie het hul span in staat gestel om ’n mededingende teiken daar te stel.
Michael Klinger (53, 44 b) het die tuisspan se boulers vroeg laat bontstaan, maar kon nie met Daniel Harris (17, 13 b) of Callum Ferguson (11) noemenswaardige vennootskappe aanknoop nie.
Alister McDermot (2/31) het van Harris en Ferguson ontslae geraak en Klinger het net 13 lopies om die derde paaltjie saam met Cooper aangeteken voordat hy deur Chris Hartley van Michael Neser (1/17) se boulwerk af uitgevang is.
Botha het hom by Cooper aangesluit nadat Cameron Borgas (5) goedkoop deur Nathan Hauritz (1/39) uitgehaal is.
Botha (0/30) kon nie dieselfde welslae met sy boulwerk as met die kolf behaal nie.
Dié draaibouler het die meeste lopies van al die Strikers se boulers af gestaan.
Heat se kolwers het van meet af aan gesukkel en was met sy span se telling op 66/6 kniediep in die moeilikheid.
Nie Andrew Robinson (8) of Matthew Hayden (13) het beïndruk nie, terwyl Peter Forrest (1) ook vroeg uit is.
Kane Richardson (2/2) het van Robinson en Hayden ontslae geraak voordat nog ’n Suid-Afrikaner, Alfonso Thomas (1/26), Forrest uitoorlê het.
– bigbash.com.au
– Vir die jongste soprtnuus volg Nuus24Sport op Twitter