Blitse in taai groep vir Hongkong geloot
2013-02-22 08:19
Kaapstad – Die Blitsbokke is in ‘n taai groep geloot vir die volgende been van vanjaar se Wêreld-sewesreeks van die Internasionale rugbyraad (IRR) in Hongkong, het OFM berig.
Suid-Afrika is Donderdag saam met Wallis, Argentinië en Australië in Groep A geloot vir die toernooi wat vanaf 22 tot 24 Maart plaasvind.
Die huidige voorlopers in die reeks, Nieu-Seeland, gaan sake in Groep B teen Amerika, Frankryk en Kenia uitspook, terwyl Samoa, Skotland, Engeland en Portugal in Groep C teen mekaar uitdraf.
Die Suid-Afrikaners hervat van Maandag af weer hul voorbereidings by hul oefenkamp in Stellenbosch.
Paul Treu, afrigter, sal na verwagting op 14 Maart sy groep vir die Hongkong-toernooi bekendmaak.
Die Super-seisoen skop ook Vrydagaand af met die Bulls wat die Stormers op Loftus Versfeld in Pretoria die stryd gaan aansê – afskoptyd is 19:10.
Die Cheetahs draf Saterdag om 17:05 op die Vrystaat-stadion teen die Sharks op die veld, terwyl die Kings en die Force om 19:10 kragte in Port Elizabeth gaan meet.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.