Baas van SA krieket moet R1 milj betaal
2010-08-12 08:33
Die Burger
Johannesburg - Suid-Afrika se krieketbaas sal Donderdag meer as R1 miljoen terugbetaal aan dié sport se beheerliggaam te midde van ’n grootskaalse ondersoek na ongerymdhede met die betaling van bonusse deur die skatryk Indiese Premierliga (IPL).
Gerald Majola, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), het Woensdagaand tydens ’n dringende telefoonkonferensie met die uitvoerende raad aangebied om dié geld te betaal voordat KSA se finansiële jaarverslag aanstaande week bekend gemaak word.
Dit sal aangedui word as “’n diverse lening wat terugbetaal is”.
’n Interne ondersoekkomitee is ook op dié vergadering op die been gebring om vas te stel hoe onverklaarde bonusse van R4,7 miljoen voorverlede jaar verdeel is tussen onder meer Majola, Don McIntosh, hooforganiseerder van die toernooi en KSA se voormalige finansiële hoof, en Kass Naidoo, kommersiële bestuurder.
KSA se eksterne ouditeure, Deloitte, het vroeër “’n wesenlike onreëlmatigheid” aan dié liggaam gerapporteer.
McIntosh het onlangs skielik uit sy pos bedank.
Die betalings is glo gedoen deur Lalit Modi, IPL-baas, wat sedert verlede jaar deur die Indiese owerhede ondersoek word weens beweerde wedstrydknoeiery.
Hoewel Majola dit ontken, verneem Die Burger op goeie gesag dat dié bonusse nie gemagtig of verklaar is nie en dat nie die uitvoerende raad of KSA se finansiële en besoldigingskomitee “enige kennis gedra het daarvan” nie.
Nog bewerings van wanbesteding van geld tydens die Kampioenetrofee-reeks in Suid-Afrika, asook reis- en onthaalkostes en ander byvoordele, word ook glo teen Majola ondersoek.
“Die interne komitee sal nie rus nie voordat elke sent verduidelik kan word. ’n Hele paar koppe kan rol,” is gesê.
Majola het die ondersoek as ’n heksejag beskryf. “Daar is niks duister aan die bonusse nie en ek het reeds belasting daarop betaal. Daar is bloot onduidelikheid oor geld wat ek nie deur KSA betaal is nie,” het hy gesê.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Die Burger