Aussies eindig eendagreeks op hoë noot
2011-02-07 09:50
Perth. – Die Australiese krieketspan het sy momentum in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi behou deur die sewende en laaste wedstryd teen Engeland Sondag hier met 57 lopies te wen en die eendagreeks met 6-1 te beklink.
Die tuisspan het 279/7 opgestapel en Engeland is ondanks Michael Yardy se 60* tot net 222 in sy laaste wedstryd op sy marathon-toer Doer Onder beperk.
Die Engelse, wat voor die Wêreldbeker-toernooi, wat op 19 Februarie in Indië, Sri Lanka en Bangladesj begin, ’n paar dae by die huis sal deurbring, was nooit in die prentjie nie nadat Andrew Strauss én Steven Davies vir nulletjies uitgehaal is.
Dit het die besoekers op 5/2 gelaat.
Jonathan Trott en Kevin Pietersen het probeer herbou, maar hul vertrek, asook dié van Ian Bell, het Engeland op 64/5 gelaat.
Mitchell Johnson het 3/18 geneem.
Shaun Tait (3/48) het gesukkel met sy ritme – hy net nege wydlopers en vyf foutballe afgestuur.
Die Perth-spelers David Hussey (60) en die speler van die wedstryd, Adam Voges (80*), het die tuisspan ná ’n stadige begin met vyftigtalle op dreef gekry.
Australië het Michael Clarke en Shane Watson ruskans gegee.
Die tuisspan het 103/4 in die 26ste beurt gehad toe die waarnemende kaptein, Cameron White, vir 24 uitgehaal is.
Hussey en Voges het hul kennis van plaaslike toestande gebruik en mooi in hul beurte versnel.
Hulle het saam 95 van 83 balle gemoker.
Dit was Voges, wat nie in die Wêreldbeker-groep is nie, se eerste wedstryd in die reeks.
Hy het gister sy hoogste telling in sy 15 aandagwedstryde van net 72 balle aangeteken.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.