Ashwell Prince kry jawoord
2010-11-11 08:00
Doebai - Ashwell Prince op nommer ses in die Proteas-kolflys en kelnerdiens vir een van die Suid-Afrikaners se gevreesde sneltrio.
Dít kan die geval wees wanneer die besoekers Vrydag aantree vir die eerste van twee toetse teen Pakistan – mits ’n draaiersvriendelike kolfblad wag.
Prince het gister bevestig dat hy vir sy 58ste toets sal uitstap nadat Andrew Hudson en sy mede-keurders moes kies tussen hom en JP Duminy met wie dié 33-jarige hotklou die afgelope twee jaar lank reeds meeding om ’n plek in die middelorde.
Prince het sy plek, wat hy voorverlede jaar in Australië aan Duminy afgestaan het, vroeër vanjaar herwin nadat sy Kaapse spanmaat ’n erge kolfinsinking beleef het. Duminy het egter in die afgelope kitsreeks teen Pakistan gewys dat hy die meeste van die tegniese haakplekke in sy kolfmondering – waaronder ’n swakheid teen kort aflewerings – uitgestryk het en gereed is om sy belowende toetsloopbaan te hervat.
Hudson-hulle moet egter nog besluit op die samestelling van die boulaanval – met die insluiting van ’n tweede draaier saam met Paul Harris ’n besliste moontlikheid.
Harris, Prince, Alviro Petersen en Mark Boucher het hulle eergister aangesluit by hul spanmaats wat pas die kitsreeks met 3-2 gewen het.
“Met Johan (Botha) ook in die groep en veral met Jacques Kallis wat weer uitstekend boul, het ons die opsie om twee draaiers te kies,” het Hudson gesê.
“Ons het dit in die Wes-Indiese Eilande gedoen en hulle vul mekaar goed aan. Paul kan die lopiekrane toedraai en groot druk plaas op die kolwers, terwyl Johan ’n meer aanvallende draaier is.”
’n Groot rede vir die Suid-Afrikaners se onlangse toetssukses is egter toe te skryf aan die feit dat Harris en Kallis teenstanders se swaargewig-kolwers saggemaak het, waarna Dale Steyn, Morné Morkel en (meer onlangs) Lonwabo Tsotsobe die uitklophou geplant het.
Sou Harris én Botha egter ingespan word op ’n blad wat straks die draaiers sal bevoordeel en nie veel wip óf vaart aan die blitse gaan bied nie, moet een van Steyn, Morkel of Tsotsobe koeldrankies aandra.
“Alles hang egter af van die kolfblad en watter soort wedstrydplan Corrie (van Zyl, die Proteas-afrigter) gaan hê,” het Hudson gesê.
Die spanne kan só lyk:
Pakistan: Mohammad Hafeez, Taufeeq Umar, Younis Khan, Mohammad Yousuf, Misbah-ul-Haq (k), Umar Akmal, Adnan Akmal, Wahab Riaz, Abdur Rehman, Umar Gul en Saeed Ajmal.
Suid-Afrika: Graeme Smith (k), Alviro Petersen, Hashim Amla, Jacques Kallis, AB de Villiers, Ashwell Prince, Mark Boucher, Paul Harris, Morné Morkel, Dale Steyn en Lonwabo Tsotsobe.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24