Arthur: Morkel, Steyn gaan Indië blits
2010-01-20 08:30
Kaapstad - Al kan tot drie Suid-Afrikaanse draaiers die Indiërs in die komende toetskrieketreeks takel, glo Mickey Arthur dat Morné Morkel en Dale Steyn steeds die leeue-aandeel van die paaltjies sal neem.
Paul Harris, Johan Botha en JP Duminy is die draaiers in die Proteas se groep vir die reeks teen Indië, wat op 6 Februarie in Nagpur begin.
Arthur, breier van die Proteas, het Dinsdag gesê die twee blitsboulers gaan egter die grootste gevaar vir die teenstanders inhou, ongeag op watter kolfblaaie hulle in Indië gaan speel.
“Ons het nou ’n fantastiese naataanval en hopelik sal hulle net verbeter.
“Ons sal in die volgende paar jaar op hulle (boulers soos Steyn, Morkel en Wayne Parnell) kan staatmaak om ons aanval te dra.”
Hy het gewaarsku dat dit steeds ’n relatief onervare boulaanval is, wat soms wisselvallig kan wees.
“Jy gaan dus uitstekende vertonings kry, maar jy moet ook reg wees vir die middelmatige vertonings af en toe.”
Die breier het gesê Botha sal waarskynlik sy kans moet afwag.
“Ek was van die begin af oorgehaal om twee draaiers te kies vir Indië en die reeks teen die Wes-Indiese Eilande later vanjaar. Die blaaie daar gaan ook dood wees.
“Ons wou Imran Tahir (’n voormalige Pakistanse draaier) oorspronklik kies.
“Dit het egter nie uitgewerk nie en Johan kry nou weer die kans.”
Volgens die afrigter sal dit afhang van die soort blaaie voor hulle sal besluit oor die getal draaiers vir die beginspan.
Arthur het bygevoeg ’n mens moenie Duminy se draaiballe vergeet nie.
“Hy het regtig beïndruk en ek glo met nog werk, kan hy ’n baie goeie draaibalbouler word.”
Dít dui daarop dat Botha geduldig sy kans sal moet afwag voor hy in sy derde toets vir die Proteas kan speel.
Botha beskou sy insluiting in die toetsgroep as ’n meevaller.
“Om die waarheid te sê, was my insluiting nogal ’n groot verrassing.
“Ek het dit nie verwag nie en as ek nooit weer ’n toets vir Suid-Afrika gespeel het nie, sou dit nie die einde van die wêreld gewees het nie,” het Botha aan Sport24 gesê.
Die draaier glo dat hy tans uitstekend boul, en hy kan nie wag om ’n kans te kry nie.
“Ek besef dat ek my kans sal moet afwag. Harry (Harris) het die afgelope twee jaar uitstekend geboul en is steeds die nommer 1-draaier in die span.”
Die vraag wat altyd gevra gaan word, is oor sy aksie. Botha is al twee keer deur skeidsregters van die Internasionale Krieketraad uitgewys vir sy aksie en ook een keer deur plaaslike skeidsregters.
“Ek boul nie tans die doosra nie en konsentreer op my wegbreke. Dit sal nie ’n probleem wees nie.”
- Die Burger
- Beeld