Andrew Flintoff binnekort in bokskryt
2012-09-06 15:26
Londen – Byna twee jaar nadat Andrew Flintoff sy uittrede aangekondig het, gaan dié voormalige Engeland-kaptein nou sy bokshandskoene aantrek.
Die 34-jarige Flintoff beplan om in November reeds in sy eerste geveg in die swaargewig-afdeling te boks.
Sy voorbereiding sal in 'n TV-reeks van drie episodes, met die titel The Gloves are Off, gewys word.
"Dit is 'n reuse uitdaging – seker die grootste wat ek nog onderneem het – veral oor so 'n kort tydperk, " het Flintoff, wat nog 'n bokslisensie moet kry, Donderdag in 'n mediaverklaring gesê.
Hy sal deur Barry McGuigan, die 1985 wêreldkampioen in die veergewig-afdeling, en sy seun, Shane, afgerig word.
'n Opponent is nog nie geïdentifiseer nie, maar die geveg word voorlopig vir 30 November beplan.
Wie sou jy graag as Flintoff se opponent wou sien? Lewer kommentaar hieronder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP