Amla in, Gibbs uit
2009-09-21 23:49
Johannesburg - Die Proteas-kaptein, Graeme Smith, het bevestig dat Hashim Amla in die plek van Herschelle Gibbs in die openingswedstryd van die Kampioenetrofee-reeks gaan speel.
Die Proteas kom môre teen Sri Lanka te staan by Centurion Park in
Pretoria vir die openingswedstryd van die Internasionale Krieketraad
(IKR) se Kampioenetrofee-reeks.
Smith het gesê Gibbs het verlede Vrydag 'n ribbesering tydens 'n opwarmingswedstryd teen die Wes-Indiese Eilande opgedoen.
"Hashim het goed gespeel in die geleenthede wat hy in die korter formaat van die wedstryd gekry het, en hy groei elke dag," het die kaptein gesê.
"Herschelle se besering het hom nog 'n geleentheid gegee. Ons hoop hy kan begin waar hy destyds afgelos het toe ons die eendagreeks in Australië verlede jaar gewen het."
Smith het op die vooraand van die Kampioenetrofee-reeks gesê sy span kan die druk om nr.1 in die wêreld te wees, hanteer.
"Ons voel nie regtig enige druk nie. Ons is die enigste span naas Australië wat dit regkry om nr. 1 in die wêreld te wees. Dit is 'n groot eer vir ons," het Smith gesê.
Smith het gesê hy konsentreer eerder op die span as op Sri Lanka voor die eerste van 15 wedstryde wat oor twee weke in Johannesburg en Pretoria gespeel gaan word.
– AFP