Amla begin ’n nuwe era op Nuweland
2011-10-13 19:53
Kaapstad – ’n Nuwe era in Suid-Afrikaanse krieket begin vandag hier op Nuweland.
Die Proteas pak om 18:00 in ’n Twintig20-wedstryd een van sy grootste vyande, Australië, met Hashim Amla in sy debuut as kaptein én Gary Kirsten in sy eerste wedstryd as afrigter. Al die kaartjies vir dié stryd is reeds uitverkoop.
Waar Kirsten met ’n indrukwekkende getuigskrif as afrigter spog, het Amla nog bitter min t20-krieket gespeel, wat nog te sê van kaptein wees in die kortste weergawe van die spel.
Kirsten het vroeër vanjaar afskeid geneem van die Indiese span nadat hy hom gehelp het om die Wêreldbeker-toernooi te wen en tot die voorste toetsland op die wêreldranglys te vorder.
Hy het begin met die taak om sy geboorteland – vir wie hy 101 toetse en 185 kitswedstryde gespeel het – in ’n kampioen om te tower.
Suid-Afrika is die amper-span van wêreldkrieket ná vele teleurstellings in groot toernooie.
Dieselfde verwagtinge word nie van Amla gekoester nie. Hy staan in as kaptein van die t20- en eendagspanne vir die beseerde AB de Villiers en het in die verlede geen geheim daarvan gemaak dat hy verkies om op sy kolfwerk te konsentreer nie.
“Ek was ses jaar laas ’n kaptein, en ofskoon ek toe gesukkel het om albei (kapteinskap en kolfwerk) te doen, het ek intussen geleer dat jy nie alles self kan doen nie. Gary is ook goed georganiseerd. Die planne wat hy het en die strukture wat hy in plek gestel het, neem ook baie druk van die kaptein af,” het Amla gesê.
Die bebaarde kaptein speel maar net in sy vierde t20-stryd vir Suid-Afrika, maar hy glo hy het genoeg ervaring op plaaslike vlak opgedoen.
Die Proteas sal die wedstrydgeld wat elkeen van die spelers vir vandag se wedstryd verdien aan ’n opvoedkundige liefdadigheidsorganisasie geskenk.
Make a Difference, ’n stigting wat deur onder andere die voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar in 2003 begin is, het al meer as 2000 minderbevoorregte kinders gehelp.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger