Allan Donald soek Engeland-pos
2010-02-04 03:49
Londen – Die voormalige Suid-Afrikaanse snelbouler Allan Donald het gesê hy sal die geleentheid om as boulafrigter na Engeland terug te keer, verwelkom.
Dit kom nadat Ottis Gibson Dinsdag bedank het toe hy die pos as Wes-Indiese Eilande se nuwe hoof-afrigter aanvaar het.
Engeland en die Walliese Krieketraad (ECB) soek nou vir iemand om vir Gibson te vervang.
Donald word as ‘n kandidaat beskou, omdat hy in 2007 vir vier maande lank die rol vervul het, maar weens familieredes onttrek het.
"Ek het dit baie geniet om met dié top-krieketspelers te werk,” het die 43-jarige gesê.
“Ek sal dom wees om die posisie te weier. Ek sal dit defnitief oorweeg, want dit is ‘n wonderlike uitdaging vir enige afrigter”
"My seun het gedurende 2007 deur ‘n rowwe tyd gegaan en ek moes onttrek. Dit sou onnosel van my gewees het om die wêreld vol te toer, terwyl my seun siek is en in die skool sukkel."
"Ek dink ek is nou weer reg om my hele gewig in te gooi.”
Die voormalige Engelse krieketspelers, Darren Gough, Phil DeFreitas en Steve Watkin word ook vir die pos oorweeg, asook die voormalige Proteas-katein, Shaun Pollock.
-Sapa-AFP