Albie versterk Titans; Boeta fiks ná eina
2011-12-14 08:30
Bloemfontein – Die veelsydige Proteas-speler Albie Morkel het volkome herstel van ’n blindederm-operasie en is dadelik in die Titans-span vir môre se SuperSport-kragmeting hier teen die Knights ingesluit.
Morkel het sy blindederm laat verwyder kort voordat hy vroeër vir die Titans op die veld sou stap in hul Eendagbeker-wedstryd teen die Knights in Benoni.
Hy sal die krieketwedstryd hier wil gebruik om te wys dat hy herstel het nadat hy hom vroeër weens ’n maagspier aan die SA twintig20-span vir die reeks teen Australië onttrek het.
Die voorlopers in die SuperSport-reeks, die Knights, sal weens dyspierbeserings sonder drie staatmakers – Ryan McLaren, Johan van der Wath en Shadley van Schalkwyk – op Chevrolet Park moet klaarkom.
Die gewese Proteas-speler Victor Mpitsang is ook op die krukkelys. Van der Wath is die reeks se voorste bouler met 21 paaltjies. Dillon du Preez en Malusi Siboto moet sy en McLaren se skoene vol staan.
Du Preez sal hoop om sy spelpeil van die Eendagbeker-reeks na die meerdaagse reeks oor te dra. Hy het 19 paaltjies ingeoes.
Die span se hotklou-kolwer Rilee Rossouw sal sy eerste verskyning in die reeks die seisoen maak en die snelbouler Quinton Friend is ná ’n besering fiks.
Die ervare Boeta Dippenaar neem ná ’n dyspierbesering ook weer sy plek in die span in.
- Daryn Smit sal die Dolphins aanvoer wat van môre af op St. Georgepark in ’n SuperSport-wedstryd teen die Warriors speel, berig Henk Steenkamp uit Port Elizabeth.
Imraan Khan én Ahmed Amla, twee oud-kapteins van die Dolphins, is beseer. Die Warriors se span is nog nie bekend nie.
- In die ander SuperSport-stryd pak die Cape Cobras en Lions mekaar op Nuweland.
Die spanne wat bekend is, is:
Knights: Morné van Wyk (k), Dean Elgar, Rilee Rossouw, Reeza Hendricks, Boeta Dippenaar, Ryan Bailey, Obus Pienaar, Michael Erlank, Quinton Friend, Dillon du Preez, Malusi Siboto, Wiann van Zyl.
Titans: Martin van Jaarsveld (k), Farhaan Behardien, Tumelo Bodibe, Henry Davids, CJ de Villiers, Faf du Plessis, Paul Harris, Heino Kuhn, Albie Morkel, Rowan Richards, Hardus Viljoen, David Wiese.
Dolphins: Daryn Smit, David Miller, Robbie Frylinck, Kyle Abbott, Friedel de Wet, Khaya Zondo, Divan Van Wyk, Devon Conway, Cody Chetty, Dane Paterson, Tabraiz Shamsi, Nash Govender.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg