Albie steek (weer) tong uit vir SA keurders
2011-05-25 08:18
Moembai. – Albie Morkel kon nie Suid-Afrika se krieketspan vir die onlangse Wêreldbeker-toernooi haal nie, maar Dinsdag in die Wankhede-stadion het hy weer laaste gelag, dié keer vir die Chennai Super Kings.
Morkel (28*, 10 b, 1x4, 3x6) en Suresh Raina (73*, 50 b, 4x4, 6x6) was die spil van die Super Kings (177/4) se sege met 6 paaltjies oor die Royal Challengers Bangalore (175/4).
Die Super Kings het nou deurgedring tot die eindstryd van die Indiese Premierliga, terwyl die Royal Challengers ingevolge die nuwe formaat nog ’n kans kry om die eindstryd te haal wanneer hulle teen die wenner van die kragmeting tussen die Mumbai Indians en die Kolkata Knight Riders speel.
Morkel het hom ná 16.4 beurte – en met sy span effe in die knyp op 131/4 – by Raina aangesluit.
Die Super Kings het nog 45 lopies van net 25 balle benodig, maar Morkel en Raina het koelkop gebly en dit eindelik binne ’n japtrap, teen die boulwerk van Daniel Vettori (0/42), Zaheer Khan (2/31) en Chris Gayle (0/19) gemoker.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24