Afrigter hoog op KSA se sakelys
2010-02-19 12:50
Johannesburg - Die toekoms van krieket word vandag in Kempton Park op ’n uitvoerende vergadering van Krieket Suid-Afrika (KSA) bespreek.
Die vernaamste punt op die sakelys is die aanstelling van ’n nuwe afrigter ná Mickey Arthur se bedanking op omstrede wyse.
Hy is deur Corrie van Zyl as tussentydse afrigter vervang.
Gerald Majola, uitvoerende hoof van KSA, sê ’n nuwe struktuur vir SA krieket sal hoog op die sakelys wees. Spelerskontrakte sal ook bekyk word.
Arthur het juis bedank omdat hy gesê het hy en KSA is nie langer op dieselfde golflengte wat toekomstige strukture betref om krieket op die boonste sport te plaas nie.
Wat die afrigter betref, moet ’n besluit eers geneem word oor watter proses met sy aanstelling gevolg moet word. Dieselfde geld die keurkomitee. Daar is sprake dat een keurder die SA span sal kies, maar dit kan ’n brandpunt wees.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) gister sy vuis gebal nadat die Dolphins vroeër vandeesweek vyf senior-spelers gepos het, skryf Eduan Roos.
Dié KwaZulu-Natalse franchise het die kontrakte van Alfonso Thomas, Pierre de Bruyn, Andrew Hall, Johann Louw en HD Ackermann “summier opgeskort”, hoewel dit eers einde April vanjaar verstryk.
In ’n brief aan Jesse Chellan, uitvoerende hoof van die Dolphins, eis Saca vergoeding en kap dié liggaam ook na wat dit “onregmatige ontslag” en “die skaad van dié spelers se reputasies” noem.
“Hul ontslag is strydig met enige ooreenkomste in die MOU (Memorandum van Verstandhouding) en onregverdig ingevolge arbeidswetgewing,” skryf Tony Irish, uitvoerende hoof van Saca.
“Vanuit ‘n regsoogpunt kan ’n speler se kontrak nie opgeskort word alvorens dit verstryk het nie…net soos hy nie sy kontrak kan verontagsaam nie. Die kontrakte is ook opgeskort sonder goeie rede en sonder om die geskikte prosedures te volg.”
Chellan het Dinsdag gesê die vyftal is gepos weens “‘n leemte in die Dolphins se boulaanval” en “omdat hul vertonings agter geraak het met dié van die ander franchises”.
- Beeld