Afridi moet homself bewys teen Proteas
2013-02-21 07:08
Lahore – Die veelsydige Shahid Afridi van Pakistan het 'n laaste kans om homself te bewys nadat hy ingesluit is in die eendagspan vir die reeks in Suid-Afrika.
Die 32-jarige Afridi is verlede jaar weggelaat uit die eendagreeks in Indië nadat sy vertoning met die kolf en die bal verswak het.
Keurders in Pakistan het gesê Afridi sal sy terugkeer tot die eendag- en t20-span maak.
"Ons het gedink die span kort 'n draaier om saam met (Saeed) Ajmal in die eendagreeks te speel en dit kan Afridi se laaste kans wees om homself te bewys," het Iqbal Qasim, hoofkeurder, gesê.
Misbah-ul Haq sal die span in die eendagwedstryde in Bloemfontein (10 Maart), Centurion (15 Maart), Johannesburg (17 Maart), Durban (21 Maart) en Benoni (24 Maart) aanvoer.
Die aanvangskolwer Mohammad Hafeez sal die span in die twee t20-wedstryde in Durban en Centurion lei.
Die snelbouler Sohail Tanveer is die enigste weglating uit die t20-span wat na Indië getoer het. Hy is vervang deur Wahab Riaz.
Pakistan het die eerste twee van die drie toetse verloor. Die laaste toets begin Vrydag in Centurion.
Twintig20-span: Mohammad Hafeez (kaptein), Nasir Jamshed, Shoaib Malik, Kamran Akmal, Shahid Afridi, Saeed Ajmal, Mohammad Irfan, Wahab Riaz, Umar Akmal, Umar Gul, Ahmed Shahzad, Umar Amin, Zulfiqar Babar, Asad Ali, Junaid Khan
Eendagspan: Misbah-ul Haq (kaptein), Mohammad Hafeez, Imran Farhat, Nasir Jamshed, Kamran Akmal, Umar Akmal, Shoaib Malik, Shahid Afridi, Asad Shafiq, Younis Khan, Saeed Ajmal, Umar Gul, Wahab Riaz, Abdul Rehman, Mohammad Irfan, Junaid Khan
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- Sapa - AFP