AB lugtig vir sluimerende 3
2012-01-17 08:01
Bloemfontein – Die plaasvervangers vir Hashim Amla en Jacques Kallis waarmee hulle Dinsdag hier gaan probeer om die eendagreeks teen Sri Lanka te beklink, is darem nie “onbekendes in die span nie”.
Só waarsku AB de Villiers, kaptein van die Suid-Afrikaanse krieketspan, nadat Alviro Petersen en Colin Ingram betrek is in die plek van Amla wat pa word en Kallis wat ’n ruskans kry.
De Villiers sê daar is voor die reeks bespreek dat hulle dié kombinasie op die proef gaan stel.
“Ek voel die hoekstene van die span is nog steeds in plek en alles lyk goed.
“Ons het boonop ’n bietjie momentum en selfvertroue nadat ons die eerste twee wedstryde gewen het.”
Petersen het ná sy honderdtal in die laaste toets teen Sri Lanka die naweek nog ’n honderdtal in die SuperSport-reeks gemoker.
Ingram het baie goeie herinneringe van Chevrolet Park, waar hy hier in sy eendagbuiging ’n honderdtal teen Zimbabwe gemoker het.
Maar Sri Lanka is nie Zimbabwe nie.
Dit sal die ervare Graeme Smith se taak wees om raad in die nuwelinge se ore te fluister wanneer die toerspan se gevaarlike Lasith Malinga aantree.
Smith is egter self onder druk om op stryk te kom en te wys hy hoort nog in die Proteas se span.
Tog glo De Villiers daar is geen rede tot kommer oor sy voorganger se kolfpeil nie.
“Hy sal binnekort op sy beste wees. Hy is ’n (potensiële) wedstrydwenner vir ons.”
Maar Smith is nie die enigste kolwer wat in die reeks met die kolf sukkel nie.
Sri Lanka se drie groot kanonne het ook nog nie een gevuur nie.
Tillakaratne Dilshan, die Sri Lankaanse kaptein, hoop om nie vandag ’n derde agtereenvolgende nulletjie te kry nie.
Kumar Sangakkara sluimer nog, terwyl die ervare Mahela Jayawardene ook nog nie tot sy reg in die eerste twee kitswedstryde kon kom nie.
“Hulle is wêreldklas-spelers en ons verwag dat hulle binnekort sal lostrek,” sê De Villiers.
Hy weet min of meer hoe om na Dilshan te boul wat niks te make het met die feit dat hulle spanmaats by die Delhi Daredevils in die Indiese IPL was nie.
Hulle hoop om weer vroeg van hom ontslae te raak.
“Hulle is drie groot faktore – drie werklik goeie spelers in Sri Lanka se span. As hulle aan die gang kom, sal ons die skade net moet probeer beperk,” sê De Villiers.
Volgens Sri Lanka se veelsydige Angelo Mathews moet hulle ’n telling van 250 plus aanteken om hul boulers iets te gee om na te boul.
Hy sê hulle het sedert hul toetssege in Durban nog nie weer goeie krieket gespeel nie.
Skeidsregters: Johan Cloete (SA), Nigel Llong (Eng).
TV-skeidsregter: Billy Doctrove (WIE).
Begintyd: 14:30.
TV: Om 14:00 op SABC 3, SS 2, SH 2.
Verwagte weer: Baie warm (maksimum 34°C) met ligte suidewind. Geen reën word voorspel nie.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg