AB jag 5 000
2011-12-24 08:01
Eduan Roos
Johannesburg – Terwyl Sri Lanka steeds sy wonde lek ná ’n liederlike loesing in die eerste kriekettoets teen Suid-Afrika, lek die Proteas húl lippe af vir die herontmoeting – en die vooruitsig van nóg ’n handvol rekords.
AB de Villiers staan voor in die tou vir ’n laat Kersgeskenk wanneer die tweede van drie kragmetings in die reeks Maandag op Kingsmead begin.
Die tuisspan se onderkaptein, wat verlede naweek ’n skitterende 99 lopies in Centurion aangeteken het, benodig net 15 om die sesde Suid-Afrikaanse kolwer te word wat die 5 000-kerf in toetse verbysteek.
Hy was stewig op pad om dié mylpaal reeds op SuperSportpark te bereik voordat hy op verdagte wyse uitgehaal is – ’n lopie kort van wat sy 13de toetshonderdtal sou wees.
Danksy dié bydrae – en met die snelboulers Vernon Philander en Dale Steyn in ’n verwoestende luim – het Graeme Smith se span dié toets (in minder as drie dae) met ’n beurt en 81 lopies gewen.
Smith-hulle het gister in Durban saamgetrek om te slyp vir die toets. ’n Oorwinning sal beteken dat die Proteas ’n eerste reekssege tuis sedert Desember 2008 behaal én die jaar in die tweede plek op die ranglys van die Internasionale Krieketraad (IKR) afsluit.
Suid-Afrika is tans derde met 116 ranglyspunte, maar sal met ’n sege voor Indië (118) inskuif en die gaping tussen hom en Engeland (125) heelwat verklein.
Terselfdertyd kan Jacques Kallis en Ashwell Prince ook die rekordboeke herskryf.
Hulle het albei reeds honderdtalle gemoker teen elk van die toetslande – met die uitsondering van Sri Lanka.
Gary Kirsten, ’n voormalige Proteas-aanvangskolwer en dié span se afrigter, is die enigste Suid-Afrikaner wat die driesyferkerf teen ál nege teenstanders kon behaal – gevolg deur Kallis, Prince en Herschelle Gibbs (8), Smith (7), Hashim Amla (6) en Daryll Cullinan en De Villiers (5).
Intussen wink ’n besondere mylpaal ook vir Sri Lanka se Mahela Jayawardene. Dié 34-jarige veteraan kort een lopie om net die negende kolwer ter wêreld te word wat 10 000 toetslopies aanteken. Hy is in Centurion op briljante wyse deur Kallis uitgeloop op soek na dié lopie.
Kallis, Sachin Tendulkar, Rahul Dravid en Sunil Gavaskar (almal Indië), Ricky Ponting, Allan Border en Steve Waugh (Australië) en die Wes-Indiese Eilande se Brian Lara is tans die enigste lede van die 10 000-klub.
- Die Burger