AB boet vir ‘obstruksie’
2011-11-07 10:07
Benoni. – ’n Baie omstrede beslissing het AB de Villiers Sondag hier op Willowmoorepark van waardevolle kolfoefening beroof voordat die eerste kriekettoets teen Australië Woensdag in Kaapstad begin.
Die onderkaptein van die Suid-Afrikaanse toetsspan het die eerste kolwer in plaaslike krieket geword wat weens obstruksie van die veldwerkspan uitgegee is sedert die Internasionale Krieketraad (IKR) ’n nuwe reël in dié verband vroeër vanjaar ingestel het.
De Villiers (12 lopies van 21 balle, 1x4) het in Sondag se eendagwedstryd vir die Titans teen die Knights die bal in die dekveld ingespeel en afgesit vir ’n lopie.
Ryan McLaren het die bal opgepik en dit na die paaltjies gegooi. Hoewel hy die paaltjies misgegooi het, het die Knights geappelleer dat De Villiers die veldwerker (oftewel die bal) se pad na die paaltjies versper het.
Die skeidsregter, Lubabalo Gcuma, het tot De Villiers se ongeloof sy vinger in die lug gesteek.
Dit het geblyk dat De Villiers homself baie ongelukkig kan ag dat hy uitgegee is. Hy het bloot die lyn gehandhaaf waarlangs hy begin hardloop het en nooit doelbewus probeer om voor die paaltjies in te sny nie.
“Ek voel egter nie té ongelukkig oor die kolfkans wat ek gekry het nie. Die blad was moeilik, iets wat ek ook verwag in die toets die geval sal wees en om darem so 20-tal balle te kon ontvang, was belangrik.
“My hand voel ook goed ná die beurt en ek het geen ongerief gehad terwyl ek gekolf het nie,” het De Villiers gesê.
“Dit was glad nie my bedoeling om obstruksie te pleeg nie. Ek het daai lyn gehardloop, want ek wou nie met my kolf in die langer gras langs die blad uitgestrek het nie, aangesien dit daar kan vassteek.
“Jy kan seker nie ’n beter ou kry om die eerste een te wees wat op dié manier uitgaan as ek nie,” het hy gespot.
Ondanks die feit dat hy nie die groot beurt kon speel wat hy graag wou nie, het De Villiers gesê hy is oorgehaal om die Australiërs in die eerste toets te laat les opsê.
Later in die Titans se karige beurt van 157 lopies is Rowan Richards ook uitgegee omdat hy obstruksie gepleeg het.
Oor sy beslissing, deur Ian Howell, kan daar egter nie enige klagte wees nie, want hy het doelbewus voor sy paaltjies ingehardloop om dit te probeer beskerm.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24