AB beloof om sý stempel af te druk
2012-01-11 07:01
Kaapstad – Die AB de Villiers-tydvak in Suid-Afrikaanse krieket begin Woensdag hier op Bolandpark wanneer dié 27-jarige top-kolwer amptelik die leisels van die eendagspan by Graeme Smith oorneem.
Die Proteas pak Sri Lanka in die eerste van vyf eendagwedstryde.
De Villiers het Dinsdag op die vooraand van die wedstryd gesê hoewel hy swaar gaan steun op die ervaring van Smith en Jacques Kallis, hy sy eie kop gaan volg.
“Ek gaan miskien een of twee meer foute (as Smith) maak, maar ek dink ook ek sal ’n paar kanse waag en ’n paar nuwe dinge probeer.”
De Villiers, wat ook as paaltjiewagter diens doen in die eendagspan, sou al verlede jaar teen die Aussies die leisels geneem het, maar ’n gekraakte vinger aan sy linkerhand het meegebring dat Hashim Amla as kaptein waargeneem het.
“Dit was teleurstellend om daai reeks mis te loop, maar dit het eintlik goed uitgewerk.
Dit het aan my die kans gegee om ’n paar wedstryde uit die paviljoen dop te hou en te sien hoe die strategieë uitgewerk het.
“Ek is beslis reg vir die uitdaging en sien nogal baie uit na môre (vandag) se wedstryd,” het De Villiers gesê.
Die kapteinskap gaan beslis ’n uitdaging vir dié Pretorianer wees. Dis nooit maklik om by iemand oor te neem wat so lank soos Smith in die tuig was nie.
Om sake nóg moeiliker te maak, is Smith steeds lid van die span. De Villiers gaan sy stempel dus so vinnig as moontlik op die span moet afdruk.
De Villiers neem ook baie verantwoordelikheid op sy skouers.
Hy is kaptein, senior kolwer en paaltjiewagter vir die voorsienbare toekoms in eendagkrieket.
Dit beteken dat daar ’n moontlikheid kan wees dat De Villiers kan afskuif in die kolforde om ’n bietjie van dié druk te verlig.
“Ek wil graag op nr. 4 kolf. Dis my posisie en ek het sukses daar behaal.
“Dinge gaan egter afhang van die wedstrydsituasie. Gary (Kirsten, die afrigter) hou nie daarvan dat twee linkshandige kolwers saam kolf nie en kan dalk ’n bietjie aan die kolforde skommel.”
Met De Villiers wat die groot handskoene dra, is die balans van die span eensklaps veel beter.
Albie Morkel gaan straks weer speelkans kry, wat beteken dat die Proteas nie net ’n bykomende naatbouler in die span sal hê nie, maar ook ’n gevreesde mokerman.
Die Proteas gaan waarskynlik albei hul twee spesialis-draaiers, Johan Botha en Robin Peterson, vandag inspan.
Dit beteken dat Dale Steyn, Albie Morkel, Lonwabo Tsotsobe en Jacques Kallis die vier naatboulers gaan wees.
JP Duminy en Faf du Plessis bied ook bykomende draaibal-opsies.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg