40 minute van waansin
2011-11-18 08:06
Johannesburg – Jacques Kallis het gisteraand geen doekies omgedraai nie en erken die Suid-Afrikaanse kolwers het hul paaltjies weggegooi om vir ’n teleurstellende 266 uitgehaal te word in hul eerste beurt van die tweede toets teen Australië hier op die Wanderers.
“Die afrigter (Gary Kirsten) het ons duidelik laat verstaan dit was nie goed genoeg nie,” het Kallis van die kolf-ineenstorting gesê, met ses paaltjies wat vir 25 lopies in 40 minute verloor is.
“Ons doelwit was 350 lopies en hoewel die blad nie altyd maklik was om op te kolf nie, moes ons beslis veel beter gedoen het,” het Kallis erken.
Met sy 54, asook AB de Villiers (64) en Ashwell Prince (50), was hulle die enigste kolwers wat die boulwerk goed hanteer het.
“Hier aan die Corlett-rylaan se kant was dit soms nogal moeilik om te kolf, want van die aflewerings het half vasgesteek en nie goed deurgekom nie. Aan die gholfbaan se kant was dit meer betroubaar en kon jy met meer vertroue speel,” het hy gesê.
“As ons môre (vandag) geduldig bly en op die regte plekke boul, kan ons nog terugkom in die toets,” het Kallis gesê.
Hy het die mylpaal van 12 000 toetslopies gister bereik net nadat hy sy 50-tal gekry het. Hy is net die vierde speler in die geskiedenis van toetskrieket wat dít vermag.
“Miskien sal ek eendag daarna kyk en dit behoorlik waardeer, maar nou pla dit my nie juis nie. Ek is mos nie iemand wat vir rekords speel nie,” het hy gelag.
Kallis het skitterend gekolf en sy 54 lopies van slegs 41 balle geslaan voordat hy uit die bloute ’n los hou gespeel en gevang is.
“Ek was gelukkig om vroeg in my beurt ’n paar los aflewerings te kry – en dit was een van daardie dae dat alles uit die middel van die kolf gekom het.
“Ek was een van die ouens wat ’n los hou gespeel het om mee uit te gaan.
“Ons boulers is gretig om te vergoed vir wat die kolwers verbrou het.”
* Pat Cummins, die 18-jarige debutant-snelbouler van die Aussies, wat sy eerste toetspaaltjie geneem het toe hy vir Hashim Amla laat vang het, sê dit was ’n “briljante” dag vir die besoekers.
“Ons sou dit vooraf gegryp het om hulle vir 266 uit te kry nadat hulle die loot gewen het en die kolftoestande goed was.
“Môre (vandag) sal ook die beste wees om te kolf en ons sal dit moet benut. Die blad het wip en vaart, maar daar is nie juis sywaartse beweging nie.”
Drie kolwers – Sachin Tendulkar, Rahul Dravid en Ricky Ponting - het reeds 12 000 toetslopies verbygesteek, voordat Jaques Kallis gister (met sy beurt van 54) die eerste Suid-Afrikaner geword het om dít te vermag.
19 dae is hoeveel ouer Pat Cummins was as Ian Craig, Australië se jongste toetsspeler, toe hy gister in sy eerste kragmeting in dié weergawe vir sy land gespeel het.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus2Sport4 op Twitter.
– Sport24