Springbokke kla by Sanzar
2010-07-22 11:34
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Brisbane - Die Springbokke het besluit om 'n formele klag in te dien omdat hulle voel Sanzar se tugkomitee is bevooroordeeld teen Suid-Afrikaanse spelers.
Die skorsing van Jean de Villiers en Bakkies Botha het Suid-Afrikaners warm onder die kraag, na twee taai weke in Nieu-Seeland waar die span hul eerste twee Drienasies-wedstryde verloor het.
Die president van SA rugby, Oregon Hoskins, het regter Lex Mpati, die Springbokke se regsverteenwoordiger, gevra om ondersoek in te stel.
“Belanghebbendes het gekla dat Sanzar se tugkomitee nie konsekwent is met hul beslissings nie," het Hoskins aan die Cape Times gesê.
Jean de Villiers byvoorbeeld is nie verlede naweek deur die skeidsregter, Alain Rolland, vir sy boorvat gestraf nie. Maar agterna is hy wel deur Australië se uitwysbeampte, Scott Nowland uitgewys.
Die Springbokke is omgekrap omdat die All Black-vleuel Rene Ranger nie ook uitgewys is nie, nadat hy in dieselfde wedstryd die heelagter Zane Kirchner met die skouer geloop het.
Suid-Afrika se bestuurder van skeidsregters, André Watson, wou hom nie uitlaat oor Rolland se vertoning in Wellington nie.
“Ek sal nooit kan sê dat die Bokke te na gekom is deur die skeidsregter nie, want dan sal Suid-Afrika lief wees vir my en die res van die wêreld sal my haat. En as ek die teenoorgestelde sê, dan haat Suid-Afrika my weer,” het Watson gesê.
Afskop vir die Springbokke se Drienasies-kragmeting teen die Wallabies is om 12:00 Saterdag.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24