Smit: Ek wil in WB speel
2010-08-27 10:08
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Johannesburg – Die Springbok-kaptein John Smit het sy kritici Vrydag hard en duidelik geantwoord toe hy gesê het hy glo hy’t genoeg brandstof in die tenk om in volgende jaar se Wêreldbeker in Nieu-Seeland te speel.
Smit het lesersvrae op die Springbokke se elektroniese nuusbrief beantwoord toe hy gevra is hoe lank hy nog rugby op toetsvlak sal kan speel.
Ten spyte van kritiek in die Drienasies-reeks en ‘n gemiddelde vertoning in sy 100ste toets verlede naweek, glo Smit steeds hy kan aanstaande jaar vir Suid-Afrika in die Wêreldbeker uitdraf.
Die kaptein was verlede week merkbaar geïrriteerd oor gerugte en vrae of hy na sy 100ste toets gaan uittree.
“Daardie vraag is al soveel keer aan my gestel. Ek voel goed en as ek nie beseer word nie, is ek vol vertroue dat ek volgende jaar nog kan speel, het Smit geantwoord.
Hy is reeds die kaptein met die meeste wedstryde in wêreldrugby en glo daar is geen twyfel oor motivering om in die groen-en-goud te speel nie.
“Om toetsrugby te kan speel is genoeg motivering vir enige speler. As spelers is ons nooit die eienaars van ‘n Bok-trui nie, maar dit word bloot vir ‘n tydperk aan ons toevertrou," het hy gesê.
“Ek het jonger spelers nog altyd die raad gegee om elke toets te speel asof dit hul laaste gaan wees. Daar is moeilike tye en dit is nie lekker om te verloor nie. Maar jy moet in jouself, jou spanmaats en jou afrigters glo.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24