Sal SA dán paal haal?
2011-08-22 09:01
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Port Elizabeth – Sal Suid-Afrika steeds die pyp teen Nieu-Seeland rook wanneer die Kiwi’s hul sterkste span kies?
Dít was die groot vraag ná die Springbokke se sege van 18-5 oor die All Blacks Saterdag in hul Drienasies-rugbytoets hier in die Nelson Mandelabaai-stadion. En dis ook aan die Springbok-breier, Peter de Villiers, gestel.
“Jy kan nie te veel selfvertroue hê nie, maar ek is baie gelukkig met ons vertoning,” het hy gesê.
Die Bok-kamp is nie blind vir die feit dat die All Blacks sonder hul twee grootste sterre – hul kaptein, Richie McCaw, en die losskakel Dan Carter – gespeel het nie.
Die slot Brad Thorn, die senter Conrad Smith, die heelagter Mils Muliaina, die vleuel Sitiveni Sivivatu, die agtsteman Kieran Read en die vaskopstut Owen Franks het ook nie Suid-Afrika toe gekom nie.
Dit kom daarop neer dat Nieu-Seeland se sleutelspelers se koppe reeds Brisbane toe gestaan het. Dis dáár waar die Kiwi’s môre hul groep vir die Wêreldbeker-toernooi in September gaan aankondig en óók waar hulle Saterdag teen Australië om die Drienasies-titel gaan uitspeel.
Nietemin laai die druk ook nou op die All Blacks. As hulle teen die Wallabies verloor, betree hulle die WB-toernooi met agtereenvolgende nederlae.
Vir Suid-Afrika was die sege ook maar broodnodig.
Daar sal nou wel aangevoer word dat dit byna ’n All Black “B”-span was, maar daar is eintlik maar min te kies tussen die driekwarte wat gespeel het en daardie wat gerus het. Carter en McCaw is die groot troefkaarte.
Die gehalte van Suid-Afrika se spel in die basiese aspekte was wel bemoedigend, ongeag wie vir die Kiwi’s gespeel het.
“Ons goeie skrumwerk wys dat ons op die regte pad is. Daar was ’n puik grondslag. Soos gewoonlik was die lynstaanspeel ook goed, maar dit was beter as verlede week,” het De Villiers gesê.
“Daar is ook geleenthede geskep en daar was ’n tydperk in die eerste helfte wat ons met elke besoek aan die All Blacks se helfte punte aangeteken het. Dis presies hoe die Wêreldbeker-toernooi gespeel gaan word.”
As alles volgens plan vir die Bokke en All Blacks in die Wêreldbeker-toernooi verloop, sal hulle mekaar in ’n halfeindstryd ontmoet.
Suid-Afrika se keerwerk was ook indrukwekkend, hoewel die Springbokke dikwels onder groot druk was.
Hulle kon maklik ook die toets verloor het as dit nie vir ’n kombinasie van hul oorgawe op die verdediging en swak uitvoering deur die Kiwi’s was nie.
De Villiers het selfs die punt gemaak dat die gehalte van Suid-Afrika se vertoning in die vorige week se verloortoets teen Australië soms eintlik beter as Saterdag s’n was.
“Ons het die vorige week vir 50 minute goed gespeel en in sommige aspekte was ons beter as dié week.
“Die span het die situasie vandag baie goed gelees en die All Blacks was gevaarlik op die punte. Ons verdediging was baie goed.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24