Ruan: 'Ons sál mededingend wees'
2011-07-13 22:56
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Johannesburg – Die Springbokke sal hul Drienasies-toetswedstryde in Australië en Nieu-Seeland gebruik om jong spelers ‘n kans te gee om hul kleim af te steek vir die wêreldkampioene se wêreldbeker-veldtog later vanjaar, het die skrumskakel Ruan Pienaar Woensdag gesê.
Pienaar, wat verlede jaar in 11 van Suid-Afrika se 15 toetse gespeel het, is ingesluit in ‘n besering-geteisterde groep vir die wegwedstryde teen Australië en Nieu-Seeland. Die wêreldbeker-toernooi speel in September in Nieu-Seeland af.
Die Springbokke toer sonder 21 van hul top-spelers, insluitende sleutelfigure soos Fourie du Preez, Jaque Fourie, Jean de Villiers, Juan Smith, Victor Matfield, Bakkies Botha, Gurthro Steenkamp en Tendai Mtawarira.
Pienaar sê egter ‘n talentvolle span sal steeds uitdraf. Hy meen die span kan selfvertroue put uit die 2007-Drienasiesreeks, toe Suid-Afrika kort voor die wêreldbeker-toernooi verswakte spanne na Australië en Nieu-Seeland gestuur het en steeds uiters mededingend was.
“In 2007 het ons ook baie jong spelers by die toer ingegooi en niemand het veel verwag nie. Maar ons was gevaarlik omdat ons regtig in onsself geglo het en net ons bes wou doen,” het hy gesê.
“Ons was vinnig 17-0 voor teen Australië, maar het toe ons voorsprong probeer verdedig en 25-17 verloor. Ons het egter weer baie goeie spelers, ons kan dit wees ‘n kans gee en dis ‘n goeie geleentheid vir spelers om hul kleim af te steek vir die wêreldbeker-toernooi.”
Pienaar (27) sal waarskynlik die Springbokke se eerstekeuse-skrumskakel wees terwyl Fourie du Preez van ‘n kniebesering herstel, alhoewel sy veelsydigheid as agterspeler beteken hy kan moontlik ook as losskakel ingespan word.
“Ek het baie rondgeskuif in my loopbaan en het dit nou geniet om ‘n bietjie tyd om nommer nege te spandeer. Ek skat egter ek moet gereed wees om enige plek in die agterlyn te speel, hoewel ek dink ons het genoeg goeie ondersteuning op toer,” het hy gesê.
“Elton Jantjies is ‘n opkomende losskakel, Patrick Lambie se spelpeil was onlangs fantasties en Morné Steyn is ‘n deurwinterde losskakel op internasionale vlak.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- Reuters