Pocock gee Bokke raad oor blasers
2010-08-26 08:21
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Kaapstad - Suid-Afrika is met ’n kortkop die gunsteling vir Saterdag se Drienasies-toets teen die Wallabies, maar dis grotendeels ’n nuwe geslag Aussies sedert hul pakslae verlede jaar in Perth en die statistieke sedertdien maak minder optimistiese leesstof vir Springbok-ondersteuners.
Albei toetse tussen dié rugbyspanne sedertdien is in Brisbane gespeel – dis ’n wêreld verwyder van die Hoëveld en altyd ’n moeilike veld vir die Bokke, maar die puntetotaal lees 51-19 in die Aussies se guns oor die vorige 160 minute se rugby.
Die Wallaby-loskopstut, Benn Alexander, het ’n verdagte skrum kom woema gee, terwyl die bloedjong oopkantflank David Pocock ’n waardige draer is van ’n trui wat in die verlede deur bielie-baljagters soos David Wilson en George Smith gedra is.
Die skrums en die afbreekpunt synde waar die meeste omstredenheid rondom deesdae se blasers uitwoed, bevind sowel Robinson as Pocock hulself gereeld in die spervuur, maar albei weier om hulself hieroor jammer te kry.
“Die meeste skeidsregters het ’n variasietjie hier en daar; jy moet maar leer om met hulle te werk,” trek Robinson sy skouers op. “Jy moet maar seker maak jy kry soveel as wat jy kan uit hom!
“Almal soek bestendigheid, maar dis een van rugby se uniekhede dat dit ’n effens ander spel is in Brizzy (Brisbane) en Pretoria en die Noordelike Halfrond.”
Pocock weet kritiek oor wettigheid is deel van sy posbeskrywing as oopkantflank. “Ek speel so na aan die lyn as wat ek kan, almal doen dit.
“Ek dink dit sal al belangriker word dat spelers skeidsregters vooraf bestudeer: die tegnologie is immers nou beskikbaar.”
Hy lig sy wenkbroue as ’n joernalis uitvra oor die gebrek aan ’n baljagter in die Bok-lostrio. “Hulle het drie Springbokke van wêreldgehalte in hul lostrio en die kombinasie werk al jare vir hulle. Heinrich Brüssow is ’n meer uit en uit-baljagter as hy, maar Schalk Burger is baie goed by die afbreekpunt. Ek het gedink Juan de Jongh het ook teen die All Blacks goed gevaar, maar almal weet ook wat Jaque Fourie na ’n span bring.”
Robinson staal hom ook vir ’n besige Saterdagmiddag. “Ek dink die Springbok-voorry het baie goed gevaar teen Nieu-Seeland en ek dink die skrums gaan in Pretoria ook baie belangrik wees. Jannie du Plessis is ’n sterk skrumwerker en ’n aggressiewe speler. John Smit is ’n harde ou en jy kan sien hy lei die skrum.
“Ons werk egter aan ons eie spel, skaaf die ongelykhede. Die selfvertroue wat ons sal kan kry deur Saterdag te wen, is oorgenoeg motivering.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24