Oorlog teen SA rugby, sê Saru-base
2010-08-01 06:31
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
RUDOLPH LAKE en HENRY CLOETE
Johannesburg en Kaapstad - Die Sanzar-tugverhoor teen die Springbokke se afrigter, Peter de Villiers, is ’n “oorlogsverklaring deur Australië en Nieu-Seeland teen Suid-Afrika”.
Só sê Suid-Afrika se rugbybase in ’n vertoon van solidariteit met die beleërde De Villiers.
Hulle het die Aussies en Kiwi’s van duistere motiewe beskuldig.
“Ons staan bankvas agter Peter en sal hom met mag en mening verdedig wanneer hy voor die tugkomitee moet verskyn,” het Oregan Hoskins, Saru-president, Saterdag aan Sport24 gesê.
Hoskins het bevestig De Villiers het Donderdag, tydens ’n “informele gesprek” waarin hy en sy twee hulpafrigters verantwoording aan rugbybase moes doen oor die Springbokke se patetiese Drienasies-veldtog, belowe om in die toekoms geen omstrede uitlatings oor skeidsregters te maak nie.
De Villiers moet eersdaags voor ’n tugkomitee van Sanzar (die beheerliggaam van die Suidelike Halfrond-rugbykompetisies) verskyn in verband met sy uitsprake op Australiese TV ná die Bokke se twee nederlae teen die All Blacks vroeër vandeesmaand.
- Intussen het dr. Henning Gericke, die sportsielkundige wat Jack White se seëvierende Wêreldbeker-span in 2007 kopfiks gehou het, gesê daar is sterk aanduidings dat dinge nie pluis is in die huidige Bok-groep nie.
Die leiers in die Springbok-rugbyspan is moontlik te sag op mekaar én op die spelers in die groep, het hy by navraag aan Rapport gesê.
Sekere spelers is klaarblyklik “sielkundig afwesig”. Ook het die magsbalans in die Bok-groep volgens hom dalk na die spelers se kant geswaai.
Dít kan van die moontlike verklarings wees vir Suid-Afrika se vrot vertoning in vanjaar se Drienasies-reeks, sê hy.
Veral die span se swak dissipline op die veld is ’n aanduiding dat daar fout is.
“Beteken dit die spelers het te veel vryheid? Hulle gaan harder op mekaar moet wees. John is ’n great leier, maar hy sal vorentoe moet tree. Hy staan nie op die oomblik uit nie.
“As jy eenvoudig nie (sielkundig) dáár is nie, gaan jy sulke uitslae (soos die afgelope paar weke) kry,” sê
Gericke.
“Wat Peter so uitstekend gedoen het, was om die spelers te bemagtig. Maar dis ’n baie fyn lyn…
“Net die groep sal weet, maar dis baie moontlik dat die balans te veel na die spelers geswaai het.
“Peter gaan nou mental toughness moet wys; hy gaan hard met hulle moet praat.”
Hy sê die feit dat De Villiers so op skeidsregterfoute hamer, wys die fokus van die span is nie op die régte probleme nie.
- Tydens Donderdag se gesprek by Saru se hoofkantoor in Nuweland moes De Villiers sy spankeuses en spelpatroon aan van die land se top-rugbybase verduidelik.
Sy hulpafrigters, Dick Muir en Gary Gold, is volgens Rapport se bron deur moontlike afdanking in die gesig gestaar.
Rugbybase het Saterdag gerugte ontken dat De Villiers alle skuld op sy hulpafrigters gepak het.
Volgens betroubare inligting het De Villiers erken dat hy, sowel as Gold en Muir, foute begaan het.
Hy het gevra om met hulle te praat en “sekere klein probleempies” te takel alvorens afdankings oorweeg word.
Die rugbybase het ingestem en agterna hul tevredenheid uitgespreek oor ’n “reguit, eerlike en uiteindelik baie vrugbare gesprek”.
’n Amptelike prestasie-beoordeling van De Villiers en die Bokke word vandeesweek deur ’n tegniese komitee van Saru gedoen.
Volgens Sport24 se inligting gaan die president van die Goue Leeus Rugbyunie (GLRU), Kevin de Klerk, daarvoor ingespan word.
- Rapport