Lostrio-krukkelys langer
2011-08-09 07:18
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Durban – Die Springbokke se losvoorspeler-krisis het Maandag verdiep, met Pierre Spies en Danie Rossouw wat hulle by die lang lys beseerdes gevoeg het.
Spies het soos Schalk Burger, Juan Smith en Willem Alberts nie aan Maandagoggend se rugbyoefening by die Northwood High School in Durban-Noord deelgeneem nie, terwyl Rossouw, wat met erge diarree sukkel, glad nie eens by die veld was nie.
Die Suid-Afrikaanse spandokter, Craig Roberts, het gesê Spies het Maandag ’n skandering aan sy beseerde lies ondergaan.
“Ons is glad nie gelukkig met die situasie nie, maar sal eers wag vir die uitslag voor ons ’n besluit neem.”
Met Spies, Smith, Burger en Alberts wat almal sake vanaf die kantlyn moes dophou, het Bismarck du Plessis in die oefening langs die kant van die skrum gesak saam met Heinrich Brüssow en Jean Deysel as die lostrio.
Volgens Peter de Villiers, die Bok-afrigter, sal die Cheetah Ashley Johnson en die Haaie se Ryan Kankowski hulle as dekking vir die beseerde losvoorspelers by die groep aansluit.
Alberts sou ook Maandagmiddag ’n dokter gespreek het oor sy skouerbesering, wat intussen ook na sy rug versprei het.
Hy is egter hoopvol dat hy later in die week sal kan oefen en oorweeg kan word om die Wallabies Saterdag op Kingspark in Durban in hul Drienasies-toets te pak.
Roberts hoop Smith (haksening) en Burger (duim) kan darem binne die volgende paar weke tyd op die veld spandeer.
Die goeie nuus tussen die lostrio-smarte is darem dat die grypdief van die Cheetahs, Brüssow, fiks en slaggereed is om die Wallabies aan te vat.
Brüssow het gesê hy sal graag die grootpraterige Aussies, wat hy as taamlik arrogant beskou, op hul neuse wil laat kyk.
“Dit is nooit lekker om teen hulle te verloor nie, want hulle het altyd baie te sê.
“Hulle bied egter ’n heeltemal ander soort uitdaging as die All Blacks, teen wie jy gewoonlik weet wat jy gaan kry.
“Die Wallabies is veel meer onvoorspelbaar en hulle toets jou verdediging nogal kwaai.”
De Villiers glo dit gaan juis ’n geval wees dat die toets by die afbreekpunte gewen en verloor gaan word. Verdediging gaan ook van die grootste belang wees.
“Ons sal ons stelsels daar in plek moet hê.”
As Maandag se oefening ’n aanduiding is, gaan John Smit as haker begin, met Du Plessis op die plaasvervangersbank.
Butch James het as losskakel langs Fourie du Preez geoefen, met Frans Steyn as heelagter en ’n kombinasie van die Kaap, Jean de Villiers en Jaque Fourie, in die middelveld.
Bryan Habana en JP Pietersen was die vleuels, met twee stutte van die Haaie, Jannie du Plessis en Beast Mtawarira, wat weerskante van Smit in die voorry sal sak.
Die “bloedbroers” van die Blou Bulle, Victor Matfield en Bakkies Botha, sal die slotte wees.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24