Kiwi’s kies bestes vir Soweto-toets
2010-08-10 23:29
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Wellington. – Die bestuur van die All Black-rugbyspan het gister sy groep van 26 spelers vir die Drienasies-toets van 21 Augustus teen die Springbokke aangewys.
Dit word in die Soccer City-stadion buite Soweto gespeel, en met die uitsondering van die skrumskakel Jimmy Cowen se ribkraakbeen wat lol, kon die Nieu-Seelanders al hul beste beskikbare spelers vir die komende Suid-Afrikaanse toer kies.
Liam Messam en Richard Kahui is die enigste spelers uit die groter Nieu-Seelandse oefengroep wat nie die toer gaan meemaak nie.
Messam is vir provinsiale diens vrygestel en Kahui het onlangs ’n skouer beseer.
Cowen het verlede week ’n harde hou teen sy ribbes gekry en sou hy nie betyds herstel nie, is Alby Mathewson van die Auckland Blues gereed om sy plek in te neem.
Die Kiwi’s het Suid-Afrika vanjaar reeds twee keer hard gestamp: 32-12 in Auckland en toe 31-17 in Wellington.
Nadat hulle die Wallabies die naweek in Christchurch vir hul vierde Drienasies-oorwinning vanjaar met 20-10 geklop het, het die All Blacks nog net een enkele bonuspunt nodig om Suid-Afrika as die kampioen te onttroon.
Dit lyk vir seker binne hulle bereik.
Die Springbokke kan in hul oorblywende drie wedstryde hoogstens 15 ligapunte verdien, die Wallabies 19 – ’n puntetotaal wat die Kiwi’s reeds bereik het.
* Die Nieu-Seelandse groep is:
Voorspelers: John Afoa, Anthony Boric, Tom Donnelly, Corey Flynn, Ben Franks, Owen Franks, Jerome Kaino, Richie McCaw, Keven Mealamu, Kieran Read, Brad Thorn, Victor Vito, Samuel Whitelock and Tony Woodcock. Agterspelers: Daniel Carter, Jimmy Cowan/Alby Mathewson, Aaron Cruden, Israel Dagg, Cory Jane, Mils Muliaina, Ma’a Nonu, Rene Ranger, Josevata Rokocoko, Conrad Smith, Benson Stanley, Piri Weepu.
- Reuters