Jean reg vir gróót stryd teen Kiwi’s
2011-08-17 07:02
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Port Elizabeth – Sonny Bill Williams is beslis nie die enigste All Black-senter wat Saterdag deur die Springbokke se rugbyspan dopgehou sal moet word nie, het Jean de Villiers gesê.
“Daar is ’n kwaai stryd in die All Blacks se groep aan die gang oor watter senters na die Wêreldbeker-toernooi toe moet gaan,” het De Villiers gesê.
“Ja, Sonny Bill het in die Super Rugby-reeks fantastiese rugby gespeel, maar daar is ook iemand soos Ma’a Nonu, wat in die laaste paar toetse vir Nieu-Seeland briljant was.”
Buiten dié twee, het die All Blacks boonop ook in Conrad Smith een van die wêreld se knapste senters.
Richard Kahui, wat na verwagting Saterdag Williams se sentermaat sal wees, sal ook sy kans wil aangryp om sy vaardighede uit te stal.
“Natuurlik sal die feit dat hulle (Nieu-Seeland se) spelers vir ’n plek in die Wêreldbeker-groep speel, die beste in hulle na vore bring.
“Veral omdat die toernooi in hul eie land aangebied word en hulle graag voor hulle eie mense sal wil speel,” het De Villiers gesê.
Hy het die Nieu-Seelanders gewaarsku dat die Bokke óók nog speel vir plekke in die WB-groep.
De Villiers het bygevoeg hy dink nie aan die span teen wie hulle Saterdag opdraf as ’n verswakte All Black-span nie.
“Ek sien geen internasionale span as ’n verswakte span nie,” het hy gesê.
“Hulle speel met die beskikbare spelers en dis hul beste span wat hulle op die veld kan stuur.
“Ek dink daar is ’n klompie uitstekende spelers in die All Blacks-span en ek verwag ’n baie taai stryd.”
Volgens de Villiers is drie nederlae op ’n streep beslis nie iets wat hy of die ander Bokke ooit as “goed genoeg” sal beskou nie.
“As jy ’n Suid-Afrikaner is, wil jy wen.
“Daar was ’n paar positiewe punte uit die Australiese wedstryd en hoewel ons wou wen, het ons nie. As ons dié naweek verbeter, sal die resultaat hopelik op die telbord wys. Enige kragmeting tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland is altyd taai.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg