Henry mor oor toets op ‘ysskaatsbaan’
2010-07-28 07:05
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Melbourne – Die nors gesig van Graham Henry, afrigter van die All Blacks, is al met dié van ’n bestuurder van ’n asynfabriek vergelyk.
Maar sy ontevredenheid oor die toestand van die oppervlak waarop sy span Saterdag teen die Wallabies in ’n Drienasies-rugbystryd betrokke is, moet straks nie met ’n knippie sout gevat word nie.
Die spanne speel hier in die Docklands-stadion – ’n skrale 24 uur nadat ’n Australiese voetbalwedstryd (Aussie Rules) op die reeds verdagte oppervlak gespeel sal word.
Dat die spelersvereniging van dié Australiese sport die veld onlangs ’n “ysskaatsbaan” genoem het, voorspel dus niks goed vir die Drienasies-kragmeting nie.
Die vernaamste huurder van die Docklands-stadion, die AFL, het beloof om alles in sy vermoë te doen om die veld betyds reg te hê, maar Henry meen vir herstelwerk is daar te min tyd tussen die twee sportbyeenkomste.
“Ons besoek die stadion môre (vandag), en die werklikheid is dat daar Saterdag om 20:00 ’n toetswedstryd moet plaasvind.
“Ek twyfel of die toestand van die veld in so ’n kort tydjie reggeruk kan word.”
Eerder as om ’n bohaai op te skop, het Henry bygevoeg dat sy spelers “net moet doen wat hulle die beste doen”.
Die Docklands-stadion het ’n oopskuifdak, en vir ’n hele paar jaar al word oor die veldoppervlak gekla.
Dié geluide het die laaste paar weke drasties toegeneem nadat menige speler daar gegly het en beseer is.
“Dit is jammer ons kan nie daar oefen nie. Ek hoor die gras se wortels is baie kort. As dit so is, gaan dit waarskynlik onder die skrums oplig, en dit kan sake moeilik maak,” het Henry gesê.
Die Wallaby-breier, Robbie Deans, steur hom minder aan die toestand van die gras. “As dit moet, sal ons tot op teer speel. Die speelveld sal vir albei spanne dieselfde wees, en ons sien regtig uit na die wedstryd. Daar gaan heelwat spelers wees wat val. Maar dit gaan niks met die gras te doen hê nie.”
Omar Hassanein, uitvoerende hoof van die Australiese Rugbyspelersvereniging het gesê dit sal ’n baie dapper besluit wees om op hierdie punt ’n Bledisloebeker-wedstryd te skuif.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Reuters