Henry laai nog druk op Bokke
2011-08-19 07:01
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Port Elizabeth – Nieu-Seeland se afrigter, Graham Henry, het die druk Donderdag op Suid-Afrika gelaai voor môre se Drienasies-rugbytoets in die Nelson Mandelabaai-stadion deur te beklemtoon hóé belangrik ’n sege vir die Springbokke is.
Suid-Afrika het nou 8 van sy laaste 9 Drienasies-toetse verloor, hoewel die Bokke se afrigtingspan in die twee onlangse toerwedstryde nie hul sterkste span gekies het nie.
“Ek dink dis geweldig belangrik vir Suid-Afrika om te wen. Peter (de Villiers), John (Smit) en die span is seker desperaat,” het Henry Donderdag met die bekendmaking van sy span gesê.
“Vir Suid-Afrika sal ’n sege nét die doepa voor die Wêreldbeker-toernooi wees. Dis mos die Bokke se laaste toets voor die toernooi. Dáárom dink ek ’n sege is vir hulle broodnodig ... net om ’n bietjie ekstra druk op (hulle) te laai!”
Slegs vier van die All Blacks wat in hul sege van 30-14 oor die Wallabies in Auckland in die opdrafspan was – Keven Mealamu (haker), Ali Williams (slot), Jerome Kaino (flank) en Hosea Gear (vleuel) – sal môre teen die Bokke begin.
Henry het duidelik laat blyk dat hy ’n paar spelers se wedstrydfiksheid wil opskerp en ander ’n kans gee om hulself te bewys voordat die Kiwi’s se groep van 30 vir die Wêreldbeker-toernooi Dinsdag aangekondig word.
Die vraag is dus watter stelling die All Blacks sal maak as hul verswakte span die Bokke verslaan.
“Dis mos die soort ding waaroor ’n mens praat as dit eers gebeur, of hoe?” het Henry gesê.
“Ons wil nie dinge vooruitloop nie. Dis mos juis wanneer jy oor jou voete struikel!”
Een van die onbeproefde kombinasies in die All Black-span is in die middelveld waar Sonny Bill Williams en Richard Kahui die Bokke se gevestigde senterpaar, Jean de Villiers en Jaque Fourie, die stryd aansê.
“Dis vir ons senters ’n reuse-uitdaging, want Fourie en De Villiers is puik spelers en boonop baie ervare. Jy kry nie ’n beter senterpaar ter wêreld as die Bokke s’n nie,” het Henry gesê.
“Die groot ding wat ek van ons senters wil sien, is bloot dat hulle kop hou.
“Ek dink nie dit gaan vir hulle soseer ’n fisieke uitdaging wees nie, want albei is puik atlete.
Die uitdaging is eerder sielkundig van aard, want nie een van hulle het al baie rugby op dié vlak gespeel nie.”
Henry wil die wedstrydfiksheid van manne soos Kahui, Israel Dagg (heelagter), Isaia Toeava (vleuel) en Tony Woodcock (loskopstut) opskerp.
“Hulle is sterk aanspraakmakers vir die WB-toernooi, so ons wil hulle sien speel en dit sal ons help om besluite te neem.
“Dis nie moeilik om ’n span te kies nie, want jy sien baie rugby. Die probleem is eerder wie om weg te laat wanneer jy ’n groep van 30 vir die WB-toernooi kies.
Ons het byvoorbeeld 8 spelers wat om 6 plekke in die agterste driehoek (vleuels en heelagters) meeding.”
Henry verwag die Bokke gaan môre na ’n hoër rat oorskakel.
“Die Bokke sal 10% tot 15% beter wees, bloot omdat hulle nou as span ’n wedstryd teen Australië agter die rug het.”
Die All Blacks se span is: Israel Dagg, Isaia Toeava, Richard Kahui, Sonny Bill Williams, Hosea Gear, Colin Slade, Jimmy Cowan, Liam Messam, Adam Thomson, Jerome Kaino, Ali Williams, Sam Whitelock, John Afoa, Keven Mealamu (k), Tony Woodcock. Plaasvervangers: Andrew Hore, Ben Franks, Jarrad Hoeata, Victor Vito, Andy Ellis, Piri Weepu, Cory Jane.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg