Gelukkige 13 vir Div?
2011-08-12 09:38
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Umhlanga – Gaan die 13 veranderinge wat Peter de Villiers aan sy Springbok-span gemaak het vir Saterdag se Drienasies-toets teen die Wallabies op Kingspark in Durban vir hom geluk bring?
Dit is die vraag op rugbyondersteuners se lippe landwyd nadat slegs die kaptein, John Smit, en die losvoorspeler Danie Rossouw die debakel in Auckland twee weke gelede oorleef het.
Die span waarmee die Bokke Saterdag begin, is die mees ervare in die geskiedenis van Springbok-rugby met 810 toetse tussen die spelers.
Die vorige rekord was 750 toetse in verlede jaar se verloortoets teen die Wallabies in Bloemfontein.
Dit was toe die eerste keer in 47 jaar dat die Aussies op die Hoëveld kon wen.
Die skrumskakel, Fourie du Preez, en die flank Heinrich Brüssow maak hul terugkeer in die Bok-trui ná ’n afwesigheid van 21 maande.
Nog vier spelers, JP Pietersen, Jaque Fourie, Butch James en Gurthrö Steenkamp, speel ook die eerste keer in ’n jaar weer toetsrugby.
“Dit is fantasties om Fourie en Heinrich weer terug te hê. Hulle is van die beste spelers ter wêreld in hul onderskeie posisies en hulle dra baie by tot ons sukses.
“Ek glo hulle sal dieselfde impak as voorheen in hul loopbane hê,” het De Villiers Donderdag gesê.
“Hulle laat die ouens om hulle gemaklik voel en bring iets na die span wat ons verlede jaar gemis het.”
Wat sy voorkeur op haker, Smit bo Bismarck du Plessis, betref, het De Villiers gesê hy glo dit is die regte besluit vir hierdie week se stryd.
“Volgende week kan dit weer anders lyk, maar ek het lank besin oor omtrent ses of sewe van die keuses wat gemaak moes word.
“Wat die losvoorspelers betref, voel ek vandag veel gemakliker as Dinsdag,” het hy gesê nadat Pierre Spies en Danie Rossouw hul fiksheidstoetse geslaag het om ’n kombinasie saam met Brüssow te vorm.
“Ek is oopkop genoeg om te weet spelers is nie soos ’n ligskakelaar wat jy net kan aan- en afskakel nie.
“Dit kan dalk so ’n rukkie neem vir hulle om hul beste spelpeil te bereik, maar hulle is honger vir sukses en hul ervaring, tesame met hul vermoë, maak van hulle ’n spesiale span,” het De Villiers gesê.
“Ons sal beslis ook nie die Wallabies onderskat nie, want hulle is nie verniet die naasbeste span ter wêreld nie.”
Du Preez sê hy meen dit sal onregverdig van die rugbypubliek wees om te verwag dat hy en Brüssow net weer in die Bok-span moet instap en dadelik ’n verskil maak, asof ’n mens ’n towerstaf swaai.
“Ons kan maar net ons beste lewer en hoop dit sal goed genoeg wees,” het hy gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24