'Ek sal sterf vir SA' - Frans Steyn
2010-08-15 09:55
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Rudolph Lake en Medewerker
Johannesburg - “Ek sal op die veld vir Suid-Afrika sterf.”
Só sê die Springbok-yster Frans Steyn, nadat ’n storm die afgelope week rondom sy kop uitgebreek het oor sy jongste beenbesering én voortgesette beskikbaarheid vir Peter de Villiers se Bok-span.
’n Omgekrapte Steyn het Vrydagaand vanuit Parys in Frankryk aantygings verwerp dat hy nie die “hart” het om vir die Groen-en-Goud-trui “te sterf” nie.
Dié veelsydige kanonpoot-spelskepper sê hy wíl steeds vir die Springbokke speel en hy sal enigiets doen om dit te vermag.
“Ek het die hart om vir die Bokke te speel en ek sal op die veld vir my land sterf. Ek wil beslis in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi speel as ek goed genoeg is en sal enigiets doen om dít te vermag,” het Steyn gesê.
In ’n eksklusiewe onderhoud sê Steyn hy voel hy is onnodig gebrandmerk as iemand wat moeilik is.
Sport24 kan vandag voorts onthul dat:
- Steyn vroeër vanjaar sonder die nodige toestemming van sy Franse klub, Racing Metro, en op sy eie onkoste na Suid-Afrika gereis het om vir die Springbokke teen Wallis te speel;
- Steyn sedert die Wallis-toets nog nie weer met Bok-afrigter De Villiers gepraat het nie;
- De Villiers op 28 Mei tydens ’n vergadering met Steyn aan hom die onderneming gegee het dat hy Frankryk sou besoek om sake met Racing Metro uit te sorteer. Die Bok-afrigter het tot nou toe nog nie dié onderneming nagekom nie;
- Die keurderbaas, Peter Jooste, Steyn verlede Donderdag gebel het en hom meegedeel dat hy slegs in die Bokke se planne vir die einde van die jaar se toer na Brittanje en Ierland is. Groot was Steyn se verbasing toe hy verlede Sondag gehoor het hy is in die Springbok-groep vir die oorblywende Drienasies-wedstryde ingesluit.
- Volgens Sport24 se bronne is Steyn verlede Vrydag op die laaste nippertjie in die Bok-span ingesluit nadat senior Bokke daarop aangedring het;
- Saru het nie, soos deur die Internasionale Rugbyraad (IRR) vereis word, Steyn se Franse klub betyds versoek om hom van sy oorsese verpligtinge vry te stel nie. Só ’n versoek moet veertien dae voor die betrokke tydperk gemaak word;
- Saru het aanvanklik versuim om die Franse Rugbyfederasie enigsins in dié verband te verwittig en het dit eers die afgelope Woensdag gedoen.
Steyn, wat weens ’n besering in elk geval nie Saterdag teen die All Blacks kan speel nie, sê hy het geen ander keuse as om vir sy klub se toestemming te wag nie alvorens hy na Suid Afrika kan reis.
“Ek is nog nie deur Racing Metro vrygestel nie en ek kan nie net loop nie. Ek het ’n kontrak met hulle en ek moet dit eerbiedig. Ek het geen Bok-kontrak nie.”
Volgens Steyn word hy gebrandmerk as iemand wat nie vir die Bokke wil speel nie en word sy toewyding teenoor die Bokke bevraagteken. Dit is onwaar.
“As dit slegs van my afhang, sal niks my van die Springbokspan weghou nie. Ek sal lewe en sterwe vir die trotse Bok-trui en het beslis die hart wat nodig is om vir die Bokke te speel.
“Almal wat my ken, weet ek gee alles vir die span waarvoor ek speel. Ek wil hê mense moet eendag terugkyk en sê: ‘Frans Steyn was ’n yster’.”
Steyn sê sy terugkeer vroeër vanjaar na Suid-Afrika om vir die Bokke teen Wallis te speel, het hom byna in baie groot moeilikheid by Racing Metro laat beland.
“Ek het gedink die nodige vrystelling is gevra en gegee. Nadat ek op my eie onkoste na Suid-Afrika gevlieg het, het ek gehoor alles was nie gedoen nie.
“Met my terugkeer na Frankryk het Pierre (Berbizier, Racing Metro se afrigter) gesê hulle sal nie in my pad staan om vir my land te speel nie, maar dat dinge in die toekoms op die regte manier gedoen moet word en dat die regte protokol gevolg moet word.
“Peter het my op 28 Mei tydens ’n noodvergadering die versekering gegee dat hy na Frankryk sal reis en dinge met my klub sal uitsorteer. Hy was nog nie daar nie en ek het sedert die Wallis-toets nog nie weer met hom gepraat nie.
“Ek het net ná dié toets gehoor dat hy sê spelers wat in Europa speel, is nie goed genoeg vir die Bokke nie want die Suidelike Halfrond se speltempo is baie hoër.
“Racing Metro betaal my salaris en behandel my goed. Ek het nie ’n Bok-kontrak nie. En nou moet ek hoor ek het nie hart om vir die Bokke te speel nie.
“Ongeag alles, is ek die eerste een op die vliegtuig die oomblik wat ek toestemming kry dat ek na Suid-Afrika kan gaan om vir die Bokke te speel.
“Ek het die coach (De Villiers) die afgelope week gebel en vir hom ’n boodskap op sy selfoon gelos. Ek het hom die versekering gegee dat ek steeds gretig is om vir die Bokke te speel,” sê Steyn.
Hy het ter afsluiting sy pleidooi aan die Bok-bestuur herhaal en sy toewyding tot die Bokke weer bevestig.
“Ek wíl weer vir my land speel as ek goed genoeg is en ek sal enigiets doen om vir Suid-Afrika te speel. Ek hét die hart én ek sal op die veld vir my land sterf.”