Div rol die dobbelstene
2010-08-18 07:19
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Johannesburg – Is dit net die rondskuif van die tuinstoele of kan die gedwonge én strategiese skuiwe aan sy Springbok-rugbyspan Saterdag vir Peter de Villiers glorie bring?
Dié beleërde Bok-breier het twee Jong Turke, twee veterane en twee spelers met Kaapse flair gekies wat in die FNB-stadion moet help om te keer dat die Springbokke se pronk wéér deur Nieu-Seeland se All Blacks in ’n Drienasies-toets vertrap word.
Twee van die jonger sterre in die Blou Bulle se Super14-kampioenspan, Francois Hougaard en Flip van der Merwe, begin in hul eerste toets in onderskeidelik hul derde en vierde toetsverskynings vir die Bokke.
Die ervare JP Pietersen en Juan Smith is ook terug ná beserings, terwyl die twee Kaapse hinkstappers, Juan de Jongh en Gio Aplon, vonk in die Suid-Afrikaners se teenaanval moet verskaf.
Dit is maar ses van die agt skuiwe in die Bok-span wat teen die Wallabies verloor het, wat die afrigter gister hier aangekondig het.
Jannie du Plessis is terug ná ’n kuitbesering en Jean de Villiers speel binnesenter nadat sy skorsing verstryk het.
Slegs Pietersen en Smith het nog nie in die Drienasies-reeks gespeel nie nadat hulle die oorsese deel weens beserings misgeloop het.
Nogtans speel die Springbokke met ’n nuwe agterste driehoek, senterpaar, skakelpaar, lostrio, slotpaar en voorry sedert hulle drie weke gelede in Brisbane slae teen die Wallabies gekry het.
Desondanks is daar min verrassings in die span, met slegs Van der Merwe se keuse voor Danie Rossouw wat die wenkbroue laat lig het.
Rossouw het egter las van ’n bobeenbesering en dit was volgens die afrigter die vernaamste rede vir sy besluit.
“Ons is op soek ná ’n goeie begin en wil nie bekommernisse hê oor spelers se fiksheid nie,” het hy die besluit verduidelik.
Hougaard se insluiting was ’n gegewe.
“Francois het wel vir ons vleuel gespeel in die Super14, maar het die laaste paar weke in die Curriebeker gewys watter puik skrumskakel hy is.
Dit is boonop sy gunsteling-posisie,” het die Bokke se onderkaptein en Bulls-kaptein, Victor Matfield, dié spanmaat van hom se insluiting geloof.
Aplon vervang Zane Kirchner van die Bulle as heelagter, met Pietersen wat regtervleuel speel in Aplon se plek.
De Villiers vervang Wynand Olivier as binnesenter en De Jongh speel in die geskorste Jaque Fourie se plek.
Hougaard vervang die beseerde Ruan Pienaar.
Smith vervang Ryan Kankowski en Du Plessis speel in die plek van BJ Botha.
Francois Louw en Ricky Januarie, wat ook nie in Brisbane in aksie was nie, is as plaasvervangers gekies.
“Daar is beserings wat ons gedwing het om veranderinge te maak, maar daar was ook ’n behoefte om sekere skuiwe te maak, iets wat die terugkeer van beseerde spelers vir ons moontlik gemaak het,” het die afrigter van die Bokke gesê.
“Ek is vol vertroue ons kan dié een omdraai.”
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg