Div: 'Gee jong spelers vroeër speelkans'
2011-08-02 08:41
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Kaapstad – ’n Mens speen nie ’n vleisbees eers ’n maand voordat jy met hom wil gaan skou nie.
Dít is een van die lesse wat die Springbok-breier, Peter de Villiers, op die rampspoedige oorsese skof van die Drienasies-rugbyreeks oor jong spelers geleer het.
Nadat ’n bloedjong Bok-span die afgelope twee naweke in Australië en toe Nieu-Seeland bloedneus geslaan is, het die breier ’n gebrek aan ervaring op toetsvlak as ’n rede voorgehou.
“Wanneer ’n mens in ’n siklus van vier jaar vorentoe kyk, moet jy jong spelers liefs meer kans gee sodat hulle meer saam met senior spelers kan speel,” het De Villiers gesê.
“Want wanneer ’n mens iemand nodig het, moet ’n span nie so jonk wees soos wat hierdie een op toer was nie. Individueel het die spelers hul man gestaan, maar as ’n groep het ons gesukkel om op dreef te kom.”
Dít is waarskynlik iets wat sy kritici al voor die toer vir hom kon sê.
Ná ’n ongelooflike 2009-seisoen het die Bokke hul ondersteuners nog bitter min rede tot blydskap gegee.
Hulle het maar een uit hul laaste agt Drienasies-wedstryde gewen en verskeie senior spelers, soos hul kaptein, John Smit, is nie meer op peil nie.
Verlede jaar se Grand Slam-toer was veronderstel om jong spelers op toetsvlak te speen, maar net soos op die toer in Australasië was daar gans te min senior spelers in die groep by wie jonges kon leer.
Dat dieselfde toets straks vir ’n tweede keer gedop is – dié keer ’n maand voor die Wêreldbeker-toernooi, is kommerwekkend.
De Villiers is “baie positief” oor die lesse wat hy, sy bestuur en die jong spelers met hul laaste twee toetse geleer het.
Maar sy optimisme is skynbaar gegrond op die Wêreldbeker-toernooi se daarnamaals, eerder as op die hede.
“As die Wêreldbeker verby is, is rugby in die wêreld en in Suid-Afrika nie verby nie.
“ ’n Mens gaan nog steeds wenrugby wil sien en deel wees van ’n wenresep.
“ ’n Groot klomp senior spelers maak ná die Wêreldbeker klaar en die volgende afrigter gaan iets nodig hê om mee te werk. In daardie opsig was hierdie toer en sy lesse ’n baie goeie ding,” het De Villiers gesê.
Of dit lig gewerp het op wie sy noodsaaklike “B-span” vir Wêreldbeker-wedstryde soos dié teen Namibië gaan wees, is te betwyfel.
Dít is dieselfde dilemma waarmee Graham Henry, breier van die All Blacks, voor die vorige Wêreldbeker-toernooi gesit het.
Beserings krap De Villiers se planne wel liederlik deurmekaar. Tog, met die uitsondering van enkele spelers, is daar nie rêrig in die huidige groep jongelinge wat reeds genoeg toetservaring én selfvertroue het nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24