Dalk wéér einde van WB-droom vir Walliese senter
2011-08-15 13:44
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Cardiff – Die Walliese senter Gavin Henson sal die afskop van die Wêreldbeker in Nieu-Seeland op die krukkelys wees en kan moontlik die hele toernooi misloop nadat hy Saterdag 'n besering opgedoen het.
Henson het sy gewrig beseer in die eerste helfte van die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Engeland in Cardiff, wat die Drake met 19-9 gewen het.
Alhoewel die Walliese rugbyunie (WRU) nie amptelik aangekondig het dat Henson uit die Wêreldbeker-toernooi is nie, sal die besering hom tussen ses en agt weke op die kantlyn hou.
As die breier Warren Gatland hom nie op 22 Augustus by sy Wêreldbeker-groep van 30 spelers insluit nie, sal Henson net in die toernooi kan speel as hy 'n beseerde speler vervang.
"Gavin het Maandagoggend by die Vale-hospitaal 'n operasie aan sy gewrig ondergaan, en is 'n hersteltydperk van tussen ses en agt weke gegee," het die WRU se mediese bestuurder, Prav Mathema, in 'n verklaring bevestig.
Henson het nog nooit sy land in 'n Wêreldbeker verteenwoordig nie.
Die destydse breier Steve Hansen het hom nie in 2003 vir die span gekies nie. En in 2007 kon hy nie betyds van 'n besering herstel om die span te haal nie.
Die senter is tans sonder 'n klub nadat hy verlede seisoen 'n ruk lank vir Saracens en Toulon gespeel het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24