Bok-span in drukkoker
2011-08-20 07:47
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Port Elizabeth – Die Nelson Mandelabaai-stadion sal vandag ’n drukkoker wees wanneer die Springbokke en die All Blacks mekaar hier in ’n Drienasies-toets pak.
Die druk op elke span sal wel verskil, met die Bok-rugbyspan wat ná drie nederlae in die reeks naarstig ’n oorwinning soek en die besoekers wat om plekke in die All Blacks se Wêreldbeker-groep speel.
Daar is vandeesweek reeds baie geskryf en gepraat oor die Bokke wat moet begin momentum bou vir die WB-toernooi.
Waar daar steeds mededinging om plekke in die Kiwi’s se geledere is, kry ’n mens die idee die Bokke weet grotendeels wie in hul groep gaan wees.
“Elke ou wat in hierdie toets vir die Springbokke begin, behoort op die vliegtuig Nieu-Seeland toe te wees,” het Victor Matfield, die Bok-kaptein, gister gesê.
“Ek kan nie enigeen van hulle sien agterbly nie. Elkeen weet wat om te doen; hulle ken die groter prentjie.”
Om dié rede verwag Matfield nie sy spelers gaan individualisties speel net om die keurders te oortuig hulle moet WB-toernooi toe gaan nie.
Graham Henry, die All Black-breier, het vandeesweek gesê van die spelers wat vandag vir sy span uitdraf, kry ’n laaste kans om ’n kleim af te steek vir die WB-toernooi.
Of dít daardie spesifieke spelers onder meer druk plaas, is debatteerbaar.
“Elke speler hanteer druk anders. Dit maak van party ’n beter speler en van ander minder goeie spelers,” het Matfield gesê.
“Hoe spelers onder druk presteer, sal bepaal wie goed vertoon.”
Die feit dat die All Blacks ’n groot groep baie ervare spelers in Nieu-Seeland gelos het om uit te rus, is nie iets wat Matfield met die oog op dié kragmeting flous nie.
Hy het gesê die Bokke kan nie vir die All Blacks voorskryf wie om te kies nie.
“Dis steeds die All Blacks teen wie ons speel en die All Blacks is altyd gevaarlik.
“Ons wil eerder fokus op dinge waaroor ons beheer het, as op dinge waaroor ons nie beheer het nie.
“Hulle (die All Blacks) sal uitkom en teen ’n hoë tempo speel en ons moet probeer om ons sterkpunte op hulle af te dwing, eerder as andersom.”
Matfield het gesê hy besef die Nieu-Seelanders is baie gevaarlik wanneer die spel los raak.
’n Mens kan dus aanvaar die tuisspan sal sy foute tot die minimum probeer beperk.
Die Bokke het verlede week teen Australië die verskoning gehad dat baie van hulle ’n ruk buite aksie was.
’n Mens kan nie ná net nog ’n week wonderwerke verwag nie, maar om vir ’n bietjie vuurwerk te vra, is seker nie onaanvaarbaar nie.
Daar is vandag net vier spelers in die All Blacks se beginspan wat oorgebly het van die een wat die Wallabies enkele weke gelede pak gegee het.
Suid-Afrika se uitgedunde span is oorsee deeglik geklop.
Kan die Bokke vandag dieselfde met ’n uitgedunde Nieu-Seelandse span doen?
Springbokke
15. Pat Lambie (6 toetse) 14. JP Pietersen (37) 13. Jaque Fourie (63) 12. Jean de Villiers (68) 11. Bryan Habana (69) 10. Morné Steyn (28) 9. Fourie du Preez (56) 8. Pierre Spies (41) 7. Willem Alberts (3) 6. Heinrich Brüssow (14) 5. Victor Matfield (k, 106) 4. Bakkies Botha (73) 3. Jannie du Plessis (25) 2. Bismarck du Plessis (37) 1. Gurthrö Steenkamp (32)
Plaasvervangers: 16. John Smit (105) 17. Tendai Mtawarira (27) 18. CJ van der Linde (71) 19. Danie Rossouw (57) 20. Ashley Johnson (2) 21. Francois Hougaard (9) 22. Butch James (41)
Beamptes
Skeidsregter: George Clancy (Ierland). Assistent-skeidsregters: Andrew Small (Engeland), Carlo Damasco (Italië).Televisie-skeidsregter: Johann Meuwesen (Suid-Afrika).
Rugby op TV
Saterdag
14:15: SA Skolespan t. Frankryk o.18 (SS 1, M-Net, SHD).
15:00: Vrystaat-Cheetahs t. Pumas (SS 6)
15:30: Wallis t. Argentinië (HD en van 19:20 op SS 1 en GDN).
17:05: Suid-Afrika t. Nieu-Seeland (SS 1, M-Net, SHD en van 18:30 op SABC 2).
18:00: Ierland t. Frankryk (SS 6).
Alles afskoptye.
All Blacks
15. Israel Dagg (6 toetse) 14. Isaia Toeava (30) 13. Richard Kahui (11) 12. Sonny Bill Williams (6) 11. Hosea Gear (7) 10. Colin Slade (4) 9. Jimmy Cowan (46) 8. Liam Messam (8) 7. Adam Thomson (20) 6. Jerome Kaino (40) 5. Ali Williams (64) 4. Samuel Whitelock (16) 3. John Afoa (32) 2. Keven Mealamu (k, 84) 1. Tony Woodcock (74)
Plaasvervangers: 16. Andrew Hore (53) 17. Ben Franks (10) 18. Jarrad Hoeata (2) 19. Victor Vito (6) 20. Andy Ellis (19) 21. Piri Weepu (47) 22. Cory Jane (23)
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24