'Blasers kort hulp' - Henry
2010-07-13 12:39
In-diepte Verslae
Die All Blacks sê hulle is verbaas oor die besluit deur 'n Sanzar-tugverhoor om die Wallabies se Quade Cooper nie vir beweerde vuilspel te skors nie.
Wellington – Die breier van die All Blacks Graham Henry glo dat rugby teen so vinnige pas gespeel word dat twee blasers in 'n wedstryd nodig is.
‘n Joernalis van die sportwebblad Rugby Heaven, Marc Hinton, berig Henry meen dat iets gedoen moet word om skeidsregters tydens 'n wedstryd, wat deesdae teen so ‘n vinnige en konstante spoed gespeel word, met beslissings te help.
Henry het verduidelik dat die nuwe interpretasie van die rugbyreëls wat aan die begin van die jaar ingestel is, deels verantwoordelik is vir minder skoppe en 'n vinniger tempo.
Dit was tydens die Drienasies-openingswedstryd Saterdag tussen die All Blacks en Suid-Afrika op Eden Park duidelik dat die skeidsregter Alan Lewis sowel as sy twee "assistente" gesukkel het om by te bly.
“Ek het al verskeie kere voorstelle gemaak om twee skeidsregters op die veld te hê, nie op dieselfde tyd nie, maar dat die tweede skeidsregter die eerste een byvoorbeeld na 50 minute speeltyd vervang,” het Henry gesê.
Nog ‘n voorstel vir rugbywedstryde is dat een skeidsregter op die bal konsentreer terwyl ‘n ander slegs let op onkantspel.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24