Zola hardloop weer in SA
2011-08-27 09:00
Pretoria. – Zola Budd sal Saterdagmiddag een van die verwagte meer as 20 000 vroue wees wat in Centurion aan die grootste Spar-vrouewedloop in die land deelneem.
Die wedloop word oor 10 km beslis.
Die 45-jarige oud-Springbok, eertydse wêreldrekordhouer en tweemalige wêreldkampioen in veldloop, woon saam met haar gesin in Amerika, maar is in die land om die Amerikaanse sportskoenmaatskappy Newton se produkte te bemark.
“Ek is mos deesdae ’n skoensmous,” het Budd Vrydagmiddag in Pretoria met ’n glimlag tussen afsprake met sportwinkels gesê.
Dié eertydse wonderkind van wêreldatletiek wat in die 1980’s as ’n leerling aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein die wêreld kaalvoet aan die brand gehardloop het, sê dis nie vreemd dat sy nou skoene bemark nie.
“Onthou, die meeste van my oefeninge het ek destyds met skoene op die pad gedoen. Deesdae hardloop ek op die baan ook weer kaalvoet,” het Budd gesê.
Sy neem in Amerika nog gereeld aan baanwedlope deel en hardloop nog baie atlete wat meer as die helfte jonger is as sy, weg.
Die beste vroueatleet wat die land nog opgelewer het, sê sy sal vanmiddag tevrede wees met ’n tyd van so 38 minute.
“Ek weet nie hoe dit môre (Saterdag) sal gaan nie. Ek het gisteraand (Donderdagaand) eers ná ’n vlug van so 18 uur in Suid-Afrika aangekom.”
“Ek is nog tot 18 September in die land en wil eers op 17 September aan die SA veldloopbyeenkoms deelneem.”
Dié byeenkoms vind in haar geliefde Bloemfontein plaas.
“Ek is lekker fiks en is besig om vir ’n marathon in Amerika te oefen.”
Sy sê sy is nog ernstig oor haar planne om aanstaande jaar die eerste keer die Comrades-wedloop te pak – nie mededingend nie (“dis darem te vrek ver”), maar “net om klaar te maak”.
Budd, wat in 1984 vir Brittanje aan die Olimpiese Spele in Los Angeles deelgeneem het, bloos as jy sê sy het dit nog in haar om ’n gevaar vir die Russe in te hou. “Nee, o, nee!
“Ek is juis op soek na die boekie wat Bruce (Fordyce) jare gelede geskryf het oor hoe ’n mens moet oefen vir die Comrades. Hy het al gesê hy sal my help,” het Budd gesê.
Sy sê sy en haar man, Mike Pieterse, en hul gesin sal einde vanjaar besluit of hulle finaal terugkom Suid-Afrika toe.
“Dit bly my droom om eendag op ’n plaas in die Karoo te woon.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Volksblad