Zimbabwiër en Rus is Comrades-wenners
2010-05-30 12:00
Kaapstad - Die Zimbabwiese atleet, Stephen Muzhingi en die Rus, Elena Nurgalieva is Sondag as wenners van vanjaar se Comrades-wedloop gekroon.
Muzhingi was ook verlede jaar se Comrades-manswenner toe hy die roete in 'n tyd van 5:23:27, die tweede vinnigste tyd in die geskiedenis van die Comrades, voltooi het.
Die Suid-Afrikaners, Ludwick Mamabolo (5:35:28) en Sergio Motsoeneng (5:35:57) het onderskeidelik tweede en derde klaargemaak.
Elena Nurgalieva het die Comrades-vrouewedloop in 'n tyd van 6 ure 13 minute en 3 sekondes voltooi. Nurgalieva se tweelingsuster, Olesya het net 'n paar sekondes later in die tweede plek geëindig. Nog 'n Rus, Maria Myshlyanova, het in die derde plek klaargemaak.
Sowat 18,000 atlete het Sondagoggend in Pietermaritzburg weggespring om aan die 89.28 km-roete deel te neem wat binne 12 ure voltooi moet word.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter
te volg.
- Sport24