Yank troef Greg bergaf
2011-04-25 13:30
Pietermaritzburg – Suid-Afrika se Greg Minnaar sal ná Sondag se Wêreldbeker-bergafren hier weet wat die spreekwoord “amper, maar nog nie stamper nie” beteken.
Toe die laaste stof gaan lê het, was dit Aaron Gwin van die VSA wat met die vinnigste tyd bergaf gespog het. Hy het Minnaar met 0.24 van ’n sekonde geklop.
Die Amerikaner se wentyd was 4 minute 8.634 sekondes en Minnaar se tyd 4:08.875.
Gwin se sege is ietwat van ’n verrassing.
Hy erken dat hy nie verwag het om te wen nie.
“Moenie my vra hoe ek dit reggekry het om só ’n vinnige tyd op te stel nie, want ek weet nie.
“Miskien was dit omdat ek so kalm was. Gewoonlik probeer ek om nie met mense te gesels voor ek deelneem nie, maar vandag (gister) het ek gevoel ek moet praat om wakker te bly.
“Ek dink dit het my gehelp om te ontspan,” het Gwin in onderhoud op cyclingnews.com gesê.
Die duisende toeskouers langs die roete het geen geheim gemaak van wie hulle ondersteun nie.
Die oomblik toe Minnaar by die wegspring aangemeld het, het daar ’n spontane vuvuzela-konsert uitgebreek.
Die laaste noot is eers geblaas toe Minnaar weer tot stilstand gekom het. Hy het sy ondersteuners om verskoning gevra omdat hy nie gewen het nie.
“Ek het ’n paar dom foute begaan wat my duur te staan gekom het. In bergafrenne kan jy dit nie bekostig nie.
“Dankie vir almal van julle wat vandag hier was om my te ondersteun. Ek waardeer dit regtig.”
Gee Atherton (Brittanje) wat verlede jaar die Wêreldbeker-reeks vir bergafrenne gewen het, was derde in 4:10.55.
Tracey Mosely (Brittanje) het die vroue-ren in 4:56.16 gewen. Fionn Griffiths (Brittanje) was tweede en Frankryk se Emmetine Ragot derde.
Suid-Afrika se Gert Heyns het tweede in die veldren vir junior jaers geëindig.
Switserland se Andri Frischknecht het gewen en Cyril Grangladen van Frankryk was derde.
Mariske Strauss (Contego-Giant-Sludge) het sesde in die o.23-ren vir vroue geëindig.
Wat haar vertoning merkwaardig maak, is dat sy ’n slag hard neergeploeg en op haar kop te lande gekom het.
Haar fiets se ketting en ratte het haar ook erg las gegee maar ondanks al die terugslae het sy geweier om bes te gee.
Candice Neethling (Bizhub) was sewende in dieselfde ren.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg