Woods kry huweliksberading
2009-12-04 09:47
Los Angeles – Tiger Woods het na bewering Donderdag intensiewe huweliksberading ontvang, ‘n dag nadat die Gholf-ster “oortredings” in sy privaatlewe erken het.
Volgens die Chicago Times het Woods saam met sy vrou Elin in hul familiehuis in Florida geskuil terwyl die media geen teken van bedaring getoon het nie.
‘n Prokureur vir die eerste vrou wat met Woods verbind word, Rachel Uchitel, het ‘n perskonferensie gekanselleer as gevolg van “onvoorsiene omstandighede” nadat vars aantygings oor haar en Woods aan die lig gekom het.
Die TMZ.com vermaaklikheidsnuus webwerf het berig dat Uchitel, wat ‘n verhouding met Woods ontken het, wel ‘n verhouding met hom gehad het en dat die twee SMS-boodskappe vir mekaar gestuur het voor sy motorongeluk verlede week.
Woods het Woensdag verskoning gevra vir sy “oortredings” nadat ‘n tydskrif beweerde bewyse geplaas het van ‘n buite-egtelike verhouding tussen hom en ‘n tweede vrou, Jaimee Grubbs.
‘n Derde vrou, Kalika Moquin wat ‘n Las Vegas klubbestuurder is, het Donderdag aan Us Weekly gesê dat gerugte van ‘n verhouding tussen haar en Woods “heeltemal onwaar” is.
Woods het Woensdag vyf dae se stilte gebreek nadat US Weekly vir Grubbs aangehaal het dat sy en Woods vir 31 maande in die geheim ‘n verhouding gehad het en dat hulle 20 keer bymekaargekom het en seks gehad het.
- Sapa