Woods-joggie verbreek stilswye
2009-12-13 09:00
Wellington – Tiger Woods se gholfjoggie, Steve Williams, het sy stilswye verbreek oor die kontroversie rondom die wêreld se top gholfspeler en gesê enige buite-egtelike verhoudings het weg van gholftoere gebeur.
Williams, ‘n Nieu-Seelander, het aan die Sunday News gesê hy dra geen kennis van sy baas se buite-egtelike verhoudings nie.
“Ek is ‘n eerlike mens. Ek het geen kennis gedra van wat aangaan nie. As ek het, sou ek so gesê het.”
Williams het gesê hy is kwaad omdat ‘n prominente sportskrywer in Amerika gevra het hy moet afgedank word omdat dit moeilik is om te glo dat die verhoudings gebeur het sonder Williams se “hulp of kennis”.
Hy het aan die koerant gesê hy het nie geweet van Woods se lys van minnaresse nie en dat enige indiskresies gebeur het toe hy tuis by sy familie in Nieu-Seeland was.
“Wat mense nie besef nie is dat ek (net) vir Tiger Woods werk,” het Williams gesê.
“Ek woon in Nieu-Seeland en reis heen en weer om Tiger Woods se joggie te wees. Ek is nie 24 uur van die dag by hom nie. En al is ek ‘n goeie vriend van hom... weet ek nie wat hy van die baan af doen nie.
“Party aande gaan eet ons uit. Sy indiskresies het waarskynlik gebeur terwyl hy nie gespeel het nie.
“As hy nie speel nie, is ek terug in Nieu-Seeland. I het geen kennis van wat hy doen nie.”
Woods word verbind aan minstens 10 vroue en het Vrydag erken dat hy wel sy vrou, Elin Nordegren, verneuk het. Hy het ook aangekondig dat hy vir eers gaan ophou met professionele gholf.
Williams het gesê Woods het aan hom erken hy het “’n probleem” en Woods se besluit om gholf eers te staak om aan sy huwelik te werk, verras hom nie.
- Sapa